GRAAAFF-REINET NUUS - Daar is die naweek behoorlik gekuier, gesing en gedans tydens die Karoo-lus Fees in Graaff-Reinet.
Na sewe jaar se suksesvolle feeste het die organiseerders gepoog om aan die gemeenskap selfs meer te bied met die agtste - en finale weergawe - van dié fees, en hulle het nie teleurgestel nie.
Die geleentheid het vroeg Vrydagmiddag afgeskop met die aanbieding van die Wilde Woeste Wedloop - hier het die deelnemende hoërskoolleerders vir geweldige vermaak vir diegene wat dit aanskou het, verskaf.
Daarna was dit tyd vir eindelose pret met uithalervertonings op die verhoog, pretritte vir die kleingoed, heerlike eetgoed en verversings by die talle stalletjies en die biertent.
Na afloop van elke vertoning op die verhoog, wat ondere andere optredes deur Dewald Wasserfall en Snotkop ingesluit het, het feesgangers die kans benut om foto's saam met hul gunsteling sangers te laat neem.
Sinoniem met Graaff-Reinet was die ondersteuning van die plaaslike inwoners en besoekers dié jaar weergaloos.
Duisende feesgangers het oor die naweek deur die hekke gestroom en is die organiseerders is daarvan oortuig dat dié jaar se getalle die vorige jaar - wat 'n rekord jaar was - oortref het. (Die finale getalle sal binnekort bekendgemaak word.)
Die talle feesgangers, wat in 'n gesellige luim deur die stalletjies gewandel het, die spul pretritte aangedurf het, eetgoed by die menige kosstalletjies aangeskaf het en 'n verversingtjie by een van die wyn-, jenewer- of bierstalletjies geniet het, het vir 'n heerlike, feestelike gees gesorg.
Stalletjies met juwele, kuns en allerlei interessante goedjies, asook smullekker sjinese kos, hamburgers, pizza's en kalamari, onder andere, het gesorg dat niemand met leë hande rondgeloop het nie.
Saterdag se verrigtinge het afgeskop met honderde atlete wat die Windpomp Run aangedurf het, waarna daar aan onder andere 'n toutrek kompetisie, 'n prettige kompetisie vir paartjies, 'n herwinnings-modeparade, hondeskou en Koekedoortjie-kompetisie deelgeneem is.
'n Vlugbal- en muurbaltoernooi het ook 'n uitdaging gebied aan sportgeesdriftiges oor die loop van die naweek.
Saterdagaand se aksie op die verhoog het afgeskop met 'n vertoning deur Fatman, waarna optredes deur Leah en Emo Adams die groot gehoor meegesleur het, tot en met die laaste note waarmee The Parlotones die makietie afgesluit het.
In 'n toespraak deur Montego Pet Nutrition, die hooforganiseerder, se uitvoerende direkteur, Johan van Jaarsveld, so tussendeur die optredes Saterdagaand, het hy sy dank uitgespreek aan al die borge wat bygedra het tot die fees se sukses en verduidelik waarom hulle besluit het om dié jaar se fees die laaste een te maak.
Hy het ook bekend gemaak dat hul volgende projek wat hul graag wil aanpak ten bate van die gemeenskap, die opknapping van die Narsingstraat Primêre Skool se koshuisgeriewe behels.
Alhoewel die fees die naweek ten einde geloop het, sal die herinneringe daarvan die inwoners van Graaff-Reinet nog vir jare wat kom bybly.
• Alhoewel daar nie oor elke aktiwiteit berig is die week nie (as gevolg van 'n tekort aan spasie), sal die Advertiser oor die volgende paar weke deurentyd terugvoer gee oor die verskillende aktiwiteite wat oor die loop van die naweek plaasgevind het.
The vintage and classic car show attracted many spectators who enjoyed perusing all the splendid vehicles on show. Photo: Charlene Prinsloo
Polka-restaurant se koffiepunt by die Windpomp Run half-marathon se afskop, wat beman word deur Hansie en Hestie van der Mescht, is elke jaar vir meeste van die deelnemers die hoogtepunt van die wedloop. Foto: Denise de Lange
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'