KAROO NUUS - Ontmoet vir boervrou Anneke Botha, ’n voormalige onderwyser van Middelburg.
Dié tuisbly-ma kan toor met woorde, dus deel ons elke ander week haar verhale.
Hier is haar eerste rubriek, lekker lees!
Ontmoet mevrou Seekat: 'n dame met 'n fietse lyfie en agt pragtige, slanke tentakels. Mevrou Seekat lyk altyd in beheer van haarself en haar emosies.
Ek weet nie of sy 'n man en twee peuters het nie. Ook nie seker of sy haar eie huishouding bestuur nie, maar ek begeer om 'n mevrou Seekat te wees.
Dink net, dan kan ek agt dinge gelyk doen:
Boeta is op die toilet besig, hy roep hy's klaar.
Sussa besluit die mat lyk fraaier met 'n paar groenstrepe. Ek't vergeet om die verfpot te bêre.
Die skottelgoedwater raak-raak aan die wasbak se boonste rand, 'n ramp is besig om te ontvou.
Outjie vra of ek weet waar is die skroefie wat hy op die rakkie neergesit het, hy het dit nodig in die trekker se enjin.
Ek ruik brand. Uie in die pan, op die gasplaat. O ja, dis gas, dis vinnig, die aga is mos nou af, dis somer.
Die telefoon lui, dis my ma: "Onthou om Sussa se mates te neem, ek gaan vanmiddag na Tannie Greta toe sodat sy kan help met Sussa se trui."
My foon trieng. WhatsApp. "Ons benodig jul getalle vir Sondag se gemeente-ete." Niemand het nog geantwoord nie.
Ek moet gaan slaap, môreoggend moet ek wéér probeer vyf uur opstaan om te gaan draf. Ek het maande laas gedraf.
Nou wonder ek verder oor mevrou Seekat.
Ken sy die oorwinningsgevoel, na jy 'n berg skottelgoed gewas het en net daar besef dat die Skepper se genade soos skottelgoed is? Dat dit nooit op hou nie én dis elke dag nuut.
Sou sy weet van leef in die oomblik? Al maak die oomblik jou op daardie oomblik van jou kop af?
Ek onthou dan skielik hierdie woorde: "....woon en werk rustig voort. Vind jou vreugde in..."
Ek sê net daar dankie vir twee flopperige arms met twee hande waarmee ek rustig kan voort werk en waarmee ek my gesin kan toevou met mamma- en vroutjieliefde!
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'