SUID-KAAP NUUS - Die jaarlikse roos- en blommeskou gaan hierdie jaar vanaf 16 tot 19 Oktober weer in die Dias Museumkompleks in Mosselbaai gehou word en dit beloof om voorwaar 'n fees te wees.
Stalletjies asook 'n teetuin deur die Mosselbaai-tuinbouklub gaan deel uitmaak van vanjaar se uitstallings. Inskrywings is gratis en baie goeie pryse is op die spel.
Verskeie afdelings is beskikbaar vir rose van alle soorte en kleure, snyblomme, vetplante, potplante, struike, orgideë, bonsai, inheemse blomme asook 'n afdeling vir blommerangskikkings. In die kategorie vir rangskikkings is daar 'n spesiale afdeling vir beginners wat kan inskryf vir 'n teetafel of rangskikking met drie blomme en loof.
In die ope-afdeling is daar twee kategorieë naamlik "In the woods" en "Vreugde". Persone wat 'n voorliefde vir blommerangskikking het word veral aangemoedig om in te skryf vir hierdie afdelings.
Met die goeie reën wat ons onlangs gehad het, het ons tuine 'n goeie hupstoot gekry en sien ons weer hoe mooi ons area se blomme kan lyk. Die groot hoeveelheid toeriste wat daagliks die museum kompleks besoek, geniet elke jaar die blommeskou en dit is 'n ideale geleentheid om ons pragtige dorp en omgewing op hierdie manier aan die wêreld uit te beeld.
Inskrywings kan vanaf Donderdag 13 Oktober, om 14:00 by die museum gedoen word. Vir meer inligting, kontak Rita Blake by 082 772 8030 of Lorraine by 082 357 4549.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'