OUDTSHOORN NUUS - Klein Karoo Klassique begin eerskomende Vrydag 12 Augustus met ’n uitvoering van tango-musiek deur die gewilde Cape Town Tango Ensemble. Hulle voer van Astor Piazzolla se bekendste werke en ander klassieke stukke vir bandoneon, trekklavier, viool, klavier en kontrabas uit.
“Ons sien daarna uit om by Klassique op te tree en nooi alle musiekliefhebbers om ons uitvoering by te woon. Dit is ’n wonderlike program,” vertel groepleier Stanislav Angelov. Treffende werke soos Angel Suite, Four Seasons of Buenos Aires en Adios Nonino deur Piazzolla word uitgevoer.
Gehore kan ook uitsien na werke van Richard Galeano, Aleksandar Simi én Angelov en Charles Lazar. Dit is die ensemble se eerste optrede by Klassique.
Die Cape Town Tango Ensemble bestaan uit Angelov (bandoneon en trekklavier), Petrus de Beer (viool), Albert Combrink (klavier) en Charles Lazar (kontrabas). Hulle tree sedert 1996 plaaslik en oorsee op en het tot dusvêr drie CD’s bekendgestel, El Tango en Africa in 2003, Tango Club in 2010 en Tango Dreams in 2014.
Tango Club is in 2011 vir die Sama as beste instrumentale album genomineer. Verder het hulle verskeie TV-verskynings gemaak en was by menigte teater- en rolprentproduksies betrokke.
Angelov, oorspronklik ’n trekklavierspeler van Bulgarye, het in 2004 ’n bandoneon (’n instrument wat aansluit by die konsertina-familie en algemeen in tango-musiek gebruik word) aangeskaf. In 2005 onderneem hy ’n reis na Buenos Aires om dié instrument vêrder te studeer.
De Beer is een van Suid-Afrika se mees vooraanstaande vioolspelers en gee klas aan die Universiteit van Stellenbosch. Pianis, Combrink is ’n veelsydige musikant en het reeds saam met verskeie kunstenaars gewerk. Lazar is ’n bekende komponis en kontrabasspeler.
Volgens Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van Klein Karoo Klassique, is van vroeë barokmusiek tot eietydse komposisies deel van vanjaar se program. “Ons vier dié klassieke invloede in ’n formaat wat oud en jonk sal geniet”, sê sy. Ander uitvoerings sluit optredes deur Wouter Kellerman, James Grace en Erik Dippenaar in.
Klein Karoo Klassique word van Vrydag 12 tot Sondag 14 Augustus vir die agtste keer op Oudtshoorn aangebied.
Kaartjies is beskikbaar by Computicket, Shoprite / Checkers en House & Home.
Meer inligting is op Klassique se nuwe webblad by www.klassique.co.za beskikbaar. Bly ook op hoogte van feesnuus op Facebook (@KleinKarooKlassique), Twitter (@kkarooklassique) en Instagram (@kleinkarooklassique).
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'