GRAAFF-REINET — Die gewilde straatmark in Somersetstraat, Graaff-Reinet, The Food Lovers’ Market, trek dié Saterdag en voortaan ‘n nuwe baadjie aan wanneer dit as die ‘Somersetstraatmark’ sal handel dryf.
Die opelugmark word soos oudergewoonte in die straat gehou waar sy nuwe naam vandaan kom.
Vir diegene wat nog nie die geleentheid gehad het om dit by te woon nie, dit wil sê in Somersetstraat op die voorstoep van die populêre restaurante Polka en Our Yard.
Die mark sal duur van 9vm tot 1nm en sal daar die jaar ‘n opwindende 4km Lente pretdraf of -stap daarmee saam gepaard gaan.
Diegene wat graag daaraan wil deelneem kan by Polka aanmeld voor die wegspringtyd van 9vm en word genooi om volgens die vrolike tema van Lente aan te trek.
Pryse sal aan die bes geklede deelnemers toegestaan word.
Die inskrywingsfooi beloop R20 sowel as ‘n blikkie kos per persoon of R20 en ‘n donasie.
Alle fondse geïn sal ten bate van die Vuyani-kinderhuis aangewend word.
Daar sal weer heerlike lekkernye te koop wees op die dag en sal daar ook tonne kindervermaak aangebied word.
Besoek gerus vanaf 9vm tot 1nm op Saterdag, 3 September die mark en maak dit sommer ‘n heerlike gesinsdag in Graaff-Reinet.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'