GRAAFF-REINET NUUS — Jannie du Toit se nuwe verhoogproduksie, Bonjour Monsieur Brel, word op Donderdag, 1 Desember by die John Rupert Teater aangebied.
In Bonjour Monsieur Brel word Jacques Brel se beeldryke tekste in vier tale gesing deur Jannie du Toit en begelei deur ’n musiekensemble uit die boonste rakke.
Aanhangers kan onder meer uitsien na Brel-liedjies uit De Kleine Man van 1994, Jannie en die Tannie van 2006 en Brel in Brooklyn van 2010.
Du Toit is dekades reeds ’n hoog aangeskrewe Brel-vertolker en ’n standhoudende eksponent van uitnemendheid in liedkuns, onder andere in Nederlands.
Sy eerste vertolkings van Brel sing hy in 1988 in die produksie Van Berlyn tot Bapsfontein saam met Laurika Rauch.
Brel speel sedertdien deurgaans ’n rol in aanbiedinge soos De Kleine Man en Jannie en die Tannie saam met Christa Steyn.
Sy mees onlangse optrede in ’n Brel-produksie was Brel in Brooklyn in 2010, weer saam met Laurika, met Christa by die klavier en Sergio Zampolli as akkordeonis.
Veral twee Nederlandse Brel-liedere – Madeleine en Liefde van later – vestig hom vroeg in die negentigerjare as Brel-vertolker, maar sy latere Franse weergawes van La Valse en Il Neige sur Liège kry ook hoë lof van kenners.
Naòmi Morgan se Afrikaanse vertalings, wat uiters gunstig vergelyk met vertalings in ander tale, verteenwoordig ’n verrassende nuwe blik op Brel se tekste.
Bekende treffers is natuurlik op die spyskaart, maar ook van sy meer onbekende, ewe briljante werk.
Met sy uiters geslaagde eenmanvertoning van woordkuns en musiek – Doep is nie dood nie – steeds op die planke, verwesenlik Du Toit ’n jarelange ideaal om Brel ook in die genre van die eenman-literêre kabaret aan te bied.
Onder leiding van die deurwinterde Juanita Swanepoel – regisseur en dosent in drama by Stellenbosch Universiteit – word verbande tussen liedere en gedigte gelê en toegelig. Brel se geniale beeldende skryfwerk kom na vore en is soos die werke van klassieke komponiste en die wêreld se opera’s, helaas soos alle groot kuns, tydloos.
Brel se liedkuns sal nog vir ’n lang tyd telkens weer nuut geïnterpreteer en beluister word.
In hierdie program kom sy genialiteit ewe sterk na vore in al vier tale – ’n getuigskrif vir die ongeëwenaarde seggingskrag van die grootste chansonnier van die 20ste eeu.
• Die 80 minute vertoning begin om 7.30nm op 1 Desember by die John Rupert. Kaartjies, teen R100 per persoon, is beskikbaar by die Graaff-Reinet Toerismekantoor in Kerkstraat.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'