GRAAFF-REINET — Huis van de Graaff, 'n tehuis vir bejaardes in Graaff-Reinet, nooi graag die publiek na hul kermis op Saterdag, 4 Maart om 9vm.
Voorsitter Antoinette Steenkamp vertel meer oor die opwindende aktiwiteite vir die dag:
“Die kosstalletjies gaan heerlike eetgoed verkoop soos pannekoek, jaffels, worsrolletjies, kerrie en rys, poeding en koek. Plante en damesklere sal ook te koop wees en sal daar 'n kindertafel wees met lekkernye en spesiale aktiwiteite vir die kleinspan so kom ondersteun ons asseblief!
"Verder word daar ook 'n opwindende pretstap vir die oggend gereël wat om 9.30vm sal afskop. Daar sal twee roetes aangebied word - die pensioenaris-roete en die langer roete vir die fikses. Beide roetes begin en eindig by die tehuis, inskrywings kos R10 per persoon en kry stappers elk 'n pannekoek op die koop toe!"
Die kermis is ‘n fondinsamelingsprojek ten bate van Huis van de Graaff en word dit juis dié jaar by die tehuis te Stockenstroomstraat 19 aangebied sodat die bejaardes kan deel in die pret.
Belangstellendes kan Antoinette Steenkamp skakel by 083 527 3880 of 049 891 0165 om meer inligting te bekom.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet nuus'