MIDDELBURG NUUS — Maandag, 27 Februarie, was Nasionale Melktertdag en is dit op tradisionele wyse by Karooroos - 'n padstal buite Middelburg - gevier.
As gevolg van 'n groot reënbui wat onlangs in die distrik uitgesak het, is die melkterte behoorlik met moeite vanaf Schilderkranz (deur Carmazet Milne gebak) na Karooroos vervoer.
Dit was elke stukkie tert werd en het die inwoners van Middelburg die Maandag (wat gewoonlik 'n stil dag by die padstal is) hul melktert lus gaan bevredig.
Shirley Bowker van Zuiverkuil het self ook 'n melktertkoek as variasie op die spyskaart gemaak. Vir diegene wat iets anders wou geniet, was daar ook verskeie ander terte om van te kies.
Terwyl daar heerlik aan die terte gesmul is, het die dames ook stilletjies resepte uitgeruil, alhoewel niemand ooit sal weet of daardie geheime bestanddeel wel ook uitgelap is of nie…
Vir Nasionale Melktertdag 2018 word daar nou reeds ‘n Melktertkompetisie beplan en sal al die inskrywings en terte wat ontvang word, ná die beoordeling aan behoeftige mense en instansies geskenk word.
'Ons bring jou die nuutste Middelburg, Karoo nuus'