GRAAFF-REINET NUUS — Op Maandag, 20 Maart, het ’n groepie belangstellendes by die Ou Biblioteek in Graaff-Reinet bymekaar gekom om na die wedervaringe van die bemanning van die SS Mendi vanuit Brenda Shepherd se oogpunt te luister.
Die SS Mendi, ’n vragskip omskep om soldate van hoofsaaklik die Suid-Afrikaanse Arbeiderskorps na Frankryk tydens die Eerste Wêreldoorlog te vervoer, het aan sy einde gekom toe ’n kleiner vaartuig in digte mis daarteen gebots het. Baie van die bemanningslede wat vanuit Pondoland en ander provinsies van Suid-Afrika opgekommandeer is, het hul lewens tydens hierdie tragedie, die grootste in die maritieme geskiedenis van Suid-Afrika, verloor.
646 van die 823 bemanningslede het gesterf, ook ene Piet Dampi, seun van William Plaatjies van Graaff-Reinet. Die oorblyfsels van die Mendi lê tot vandag (2017) nog op die bodem van die Engelse Kanaal, ongeveer tien seemyle vanaf St Catherine’s point, besig om te vergaan.
Shepherd het vir sewe jaar lank haar aandag aan hierdie historiese gebeurtenis gewy, lank voordat die media en die res van Suid-Afrika daarvan bewus geword het. Sy vertel hoe dat haar belangstelling geprikkel is nadat sy van die rampspoedige sinking van die skip op ‘n plaaslike radiostasie te hore gekom het en haar gemoed volgeskiet het toe sy hoor hoe die bemanning tot aan die einde gedans en gesing het.
Shepherd se reis met die SS Mendi het haar na verskeie plekke geneem onder meer Frankryk en die Verenigde Koninkryk. Sy het omvattende navorsing gedoen ter voorbereiding vir haar boek. Intussen het sy ook ’n toekenning ontvang vir die skryf van ’n rolprentweergawe van hierdie aangrypende verhaal.
Die gehoor was dit eens dat dit ‘n baie leersame geleentheid was en dat Shepherd se boek ’n aanwins vir enige boekrak sal wees.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'