GRAAFF-REINET NUUS — Die Camdeboo Hengeklub skop 2017 op 'n hoë noot af met die heel eerste kompetisie van dié jaar se Varswater Hengel Elite Series wat op Sondag, 29 Januarie, hier in Graaff-Reinet gehou gaan word.
Die kompetisie sal van vroegoggend af op die oewers van die Nqwebadam plaasvind en die Camdeboo Hengelklub beskou dit as 'n groot voorreg om as gasheer te kan optree vir dié nasionale kompetisie.
Groot kontant pryse is op die dag op die spel vir al die deelnemers en is daar ook 'n R100 000 in prysgeld op die spel vir die algehele wenner na afloop van dié reeks kompetisies. Hengelaars wat aan die reeks deelneem sal ranglys punte kry per kompetisie waarna die top 50 hengelaars nasionaal dan in die finaal sal meeding vir hierdie groot prys.
Buiten volgende naweek se aksie op Graaff-Reinet se viswaters het twee plaaslike hengelaars ook tydens onlangse nasionale kompetisies naam gemaak vir hulself. Joseph Monoketsi - beter bekend as Solly - was deel van die OP-hengelspan wat aan die Premier A-afdeling tydens die SA kampioenskappe te Bloemhof in Januarie deelgeneem het. Monoketsi en sy penmaat Richard Prinsloo is hier genooi om aan die nasionale proewe in April vanjaar deel te neem.
Dan het Owen Thiart ook die Oostelike Provinsie verteenwoordig by die junior SA Kampioenskappe vanaf 9 Desember tot 15 Desember verlede jaar. OP het hier vierde geëindig. Thiart het ook tydens dié kompetisie die prys ontvang vanaf OP vir die swaarste vis gevang tydens hierdie byeenkoms. Hy is tans 'n leerder aan Hoër Volkskool en het ook onlangs Ereklere ontvang vir sy prestasies en deelname in hengel. Rocco Erasmus en Solly Monoketsi - beide lede van die Camdeboo Hengelklub - is dan ook genooi om die provinsie in Maart by die SA's in Port Elizabeth te verteenwoordig.
Die Camdeboo Hengelklub se eerste klubkompetisie vir 2017 vind dié eerskomende Saterdag, 21 Januarie, plaas by die Nqwebadam. Die klub se bestuur moedig graag alle belangstellende en aspirante hengelaars aan om by die klub aan te sluit en só deel te raak van die plaaslike hengelfamilie.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'