GRAAFF-REINET NUUS — ‘n Graaff-Reinetter en oud-leerder van Laer Volkskool, Marné Dercksen, het onlangs puik prestasies op nasionaal en internasionale vlak behaal.
Dercksen, slegs 15-jaar-oud, het haar beste O.18 Internasionale Tennis ranglys posisie van 540 behaal nadat sy onlangs tot die semi-finaal van Botswana en Namibië se Internasionale Tennisfederasie-toernooie deurgedring het.
Oppad na die semi-finaal het sy die nommer een O.18-speler van Kenya en ‘n Fedcup-speler van Noorweë onderskeidelik oorwin.
Sy het tydens effektiewe internasionale deelname van 14 maande haar ranglys posisie met meer as 1 500 plekke verbeter.
Op Nasionale-vlak het sy ook met die junior nasionale dubbelstitel vir meisies O.16 weggestap tydens die onlangse Junior Nasionale Tennis-toernooi.
“Ek moet erken dis baie belonend om so vinnig na ‘n groot besering weer resultate te kon lewer. Dit maak die harde werk en oefen net meer die moeite werd. Ek is maar net deel van ‘n goeie span en hoop om saam met hulle my doelwitte vir die jaar te bereik”, het Dercksen vertel.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'