RUGBY NUUS - Daar word dikwels gehoor van broers wat hul merk op die rugbyveld maak, maar nie van susters nie.
In George is twee susters, Lee-Ann (17) en Chanelle (16) Britz wat die rugbyveld aan die brand speel.
Lee-Ann vir dogters o.18 SWD en Chanelle dogters o.16 SWD. Lee-Ann speel haker en Chanelle flank.
Hulle het in Junie saam met hul SWD-spanne gaan toer en aan die o.18 en o.16 SA dogtersrugbyweek deelgeneem. Dit het by die Pelatona Projects-stadion in Welkom plaasgevind. Beide is leerlinge van Hoërskool Outeniqua, maar speel vir Hoërskool George rugby onder afrigting van Shamark Pedro en John Prins.
Hulle speel by Hoërskool George, want rugby vir dogters word nie by Outeniqua aangebied nie. Hulle het geskiedenis gemaak en sover bekend is dit die eerste keer dat twee dogters van Outeniqua in SWD-rugby dogterspanne opgeneem is. Chanelle is 'n gr. 10-leerling en Lee-Ann 'n gr.11-leerling.
Chanelle (16) is ook 'n kranige atleet en in Maart vanjaar het sy 'n bronsmedalje in die hamergooi dogters o.18 by Atletiek Suid-Afrika se kampioenskappe in Potchefstroom verwerf. Sy het 'n afstand van 48,10m gegooi. Sy word deur Jacques Wolfaardt by Outeniqua afgerig.
Om verstaanbare redes is ouers Albertus en Audrey Britz baie trots. "Ek glo daar kan ook eendag Springbok vrouerugbyspelers uit ons George-gemeenskap ontwikkel. My dogters hou baie van rugby. Ek dink hulle sal self graag eendag vir die Springbokke wil speel," het Albertus Maandag gesê.
Volgens hom speel Lee-Ann al rugby vandat sy vyf jaar oud is. Beide die susters het 'n goeie aanvoeling vir balsportsoorte en het ook al presteer in krieket en hokkie.
Albertus het nooit self rugby gespeel nie, maar wel hokkie en aan atletiek deelgeneem. Audrey het ook aan atletiek deelgeneem en netbal gespeel.
Chanelle Britz (16) met die bronsmedalje wat sy in die hamergooi vir dogters o.18 by Atletiek Suid-Afrika se kampioenskappe in Potchefstroom verwerf het.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'