SUID-KAAP NUUS - Alhoewel die SWD Arende die jaar nog nie aan die wenkant was in die SuperSport-uitdaagreeks nie, het hulle Sondagmiddag by tye uitstekende spel gelewer teen die DHL Westelike Provinsie op die Bridgton-sportterrein in Oudtshoorn.
Die WP, wat verskeie Superrugby- en SA o.20-spelers in sy span gehad het, het die Arende voor 'n groot skare van meer as 18 000 mense met 46-41 geklop. Rustyd was die wenspan reeds met 27-19 voor.
Die skeidsregter, Rasta Rasevenga, wat in die eerste helfte van die wedstryd vir Marlou van Niekerk (binnesenter) van die Arende en Dean Muir (haker) van WP met geelkaarte van die veld gestuur het, het die wedstryd goed gehanteer.
Die Arende het in die eerste twintig minute van die wedstryd drie pragdrieë gedruk en met 19-5 voorgeloop. Hul het die tipe spel gelewer wat mense weer sal teruglok na Outeniquapark. Hul goeie werk is voor rustyd ongedaan gemaak deur swak dissipline en gebrekkige kondisionering. In die eerste helfte van die wedstryd is daar reeds 12 strafskoppe teen hul toegeken.
Na rustyd het die tuisspan hul lywe op die spel geplaas met hul puik verdediging en was ongelukkig om nie die knoop deur te hak nie.
'n Onderskepdrie in die 67ste minuut deur die oud-Bok, Bjorn Basson (linkervleuel), het die Arende gekelder.
Die Arende het weer teruggeveg en die lenige Lodewyk Uys (plaasvervanger-slot) is in die 75ste minuut oor vir hul sesde drie.
Die besoekers het agt puik drieë gedruk in hul agtste oorwinning agtereenvolgens. Craig Berry (heelagter) wat 'n driekuns behaal het, Marcello Sampson (regtervleuel), die Blitsbok Ruhan Nel (buitesenter) en Brandon Thomson (losskakel) was hul uitblinkers agterlangs. Voorlangs het hul slotte, Jurie van Vuuren en Eddie Zandberg, die lostrio, Jaco Coetzee, Nyasha Tarusenga en Eital Bredenkamp (kaptein), die oog gevang.
Vir die tuisspan het Kirsten Heyns (regtervleuel), die senterpaar, Tyler Fisher en Marlou van Niekerk, die skakelpaar, Leighton Eksteen (losskakel) en Johan Steyn (skrumskakel, Dillon Snel (plaasvervanger-skrumskakel) en Quaide Langeveldt (plaasvervanger-heelagter) uithalerspel gelewer.
Die Arende se lostrio, Freginald Africa, Janneman Stander en Devon Raubenheimer (kaptein) het as eenheid baie goed gespeel. Kurt Haupt (haker) en Jeremy Jordaan (slot), wat aangewys is as speler van die wedstryd, het 'n barshou gespeel in die vastelos.
Puntemakers:
DHL WP 46 (27): Drieë - Craig Berry (heelagter, 3) Marcello Sampson (regtervleuel, 2), Bjorn Basson (linkervleuel), Nyasha Tarusenga (flank), Eddie Zandberg (slot). Doelskoppe: Brandon Thompson (losskakel, 2). Errol Jaggers (plaasvervanger).
SWD Arende 41 (19): Drieë - Kirsten Heyns (regtervleuel), Adri Jacobs (linkervleuel), Theunis Niewoudt (vaskopstut), Lodewyk Uys (plaasvervanger-slot), Dillon Snel (plaasvervanger- skrumskakel), Quaide Langeveldt (plaasvervanger-heelagter). Doelskoppe: Leighton Eksteen (losskakel, 4). Strafdoel: Eksteen.
Lodewyk Uys (slot) het uitgeblink met sy kragspel en die WP-verdedigers behoorlik laat bontstaan. Hy is beloon met 'n puik drie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus'