Gallery
RUGBY NUUS - In die Grand Challenge Cup-wedstryd wat op Saterdag 15 April in Aberdeen tussen Aberdeen-rugbyklub en Cradock se EverGreens-rugbyklub gespeel is, het die Groen Masjien van Cradock die manne van Aberdeen in die stof laat byt.
Beide spanne val in die Groep B-kategorie van die liga en Saterdag se 25 - 19 oorwinning vir Cradock was hulle eerste Ligawedstryd-wen vir die seisoen.
PHOTO GALLERY: Grand Challenge Cup-wedstryd
Binne die eerste minute van die wedstryd het EverGreens druk op Aberdeen geplaas en met 'n strafskop pale toe punte aangeteken. Die toeskouers se geskokte stilte was amper tasbaar.
Die besef dat EverGreens gekom het om te wen, het nie net die Aberdeen-ondersteuners onkant gevang nie, maar Aberdeen-spelers was self sigbaar ontsenu.
EverGreens het van meet af aan verskeie aanvalfases geloods. Onder druk en kennelik senuweeagtig het Aberdeen se manne onnodige hanteringsfoute gemaak.
Oor die algemeen was EverGreens se ongeforseerde foute in die eerste helfte aansienlik minder as Aberdeen s'n. Ten spyte van EverGreens se aanvanklike oordondering het Aberdeen se kenmerkende onverwagse, vinnige hardlooprugby-styl hulle 'n hele paar drieë laat druk. In een so 'n asemrowende hardloopbeweging het 'n oordeelsfout die span egter duur te staan gekom.
In dié beweging het Aberdeen se skrumskakel langs die kantlyn afgesnel op pad doellyn toe. EverGreens se losskakel was letterlik die laaste verdediging en met 'n mislukte duikslag en stof in die lug was Aberdeen gereed om die welverdiende drie te druk toe die lynregter se arm opskiet: volgens hom het Aberdeen uitgetrap en wat 'n drie kon wees, het vir EverGreens 'n lynstaan geword.
"Dit het ons dalk die wedstryd gekos," sê Nico Vywers, voorsitter van Aberdeen-rugbyklub. Hy sê die beeldmateriaal wys duidelik dat Aberdeen se skrumskakel binne die speelveld gebly het in die hardloopbeweging. Met 'n eindtelling van 25 - 19 kon daardie beslissing die uitkoms van die wedstryd verander het.
Soos elke ander naweek was die talle toeskouers 'n groot aansporing vir die spanne op die veld.
Hekbeampte Salomé Lamert vat dit raak: "In Aberdeen het ons mos nie veel nie, maar ons het ons rugby – oud en jonk. Ons almal lewe vir ons Saterdag-rugby soos nêrens anders in die OP nie. Wen of verloor - ons hou by Blou!"
Ongelukkige oordeelsfout: die baldraer bly binne die speelveld.
Losgemaal of stof gemaal – die bal is los! Foto: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’