SUID-KAAP NUUS - Die humeure het verlede Woensdagaand opgevlam by die Premierliga-rugbywedstryd tussen Evergreens en die NMMU Madibaz op die George-kampus.
Evergreens, die verdedigende kampioen, het ses pragdrieë gedruk in hul oortuigende oorwinning van 34-3 oor die studente.
Die manne van Pacaltsdorp is met hul volpunte oorwinning die nuwe voorloper op die punteleer met 24 punte en 'n punteverskil van (+75).
In die 35ste minuut van die wedstryd het die humeure opgevlam. Die skeidsregter, Hermanus Lamprecht, het vir Douglas Coleman (slot) van NMMU en Glenwyn Vaaltyn (vaskopstut) van Evergreens met geelkaarte van die veld gestuur.
In die 78ste minuut het die spelers mekaar met mening rondgepluk wat die skeidsregter genoodsaak het om die eindfluitjie te blaas.
Vir die wenspan, wat besig is met 'n opwaartse kurwe, het hul pak voorspelers as 'n eenheid baie goed saamgespeel.
Veral hul lostrio, Llewellyn Treurnicht, Arden Wesso en Buran Parks (kaptein), het met kragspel hul span telkemale oor die voordeellyn geneem. Glenwyn Vaaltyn (vaskopstut) en Julian Prins (haker) het met hul stewige skrumwerk vir die studente baie probleme gegee.
Die wenspan se skakelpaar, Rudi Michaels (skrumskakel) en Linden Rhoode (losskakel) het baie goed gekombineer. Albei spelers het met taktiese skoppies baie druk op die tuisspan geplaas.
In die middelveld was hul senterpaar Deon Stoffels en Divandre Strydom gevaarlik met die bal in die hand. Hulle het met plettervatte die studente ontsenu.
Evergreens se agterste driehoek, vleuels Shaun Booysen, Logan Hendricks en Jason Horne (heelagter), se spoed en voorgevoel vir die spel was net te veel vir die tuisspan.
Vir NMMU, na hul agtste nederlaag agtereenvolgens, wag daar harde werk as hul nie vanjaar met die houtlepel in die kompetisie wil wegloop nie.
Die studente se swak hantering en verkeerde opsies het talle belowende bewegings laat skipbreuk ly.
Taswin da Silva (heelagter), Regardt Smit (regtervleuel), J J du Toit (agtsteman), Angus Young (flank), Siphosihle Maseko (loskopstut), Nathan Gogela (haker) en Tristen Fourie (plaasvervanger-losskakel) was die tuisspan se beste spelers.
Logan Hendricks (linkervleuel, 2), Shaun Booysen (regtervleuel), Buran Parks (agtsteman en kaptein) Darren April (slot) en Glenwyn Vaaltyn (vaskopstut) het vir die wenspan gaan druk. Jason Horne (heelagter) slaag met 2 doelskoppe. Vir die studente het Nathan Kemp (losskakel) 'n strafdoel oorgeklits.
Puntemakers (tweede en derde spanne):
Evergreens II (28): Drieë - Jovanian du Preez (linkervleuel, 2), Franklin Kapank (regtervleuel, 2). Quinton Africa (losskakel) slaag met 4 doelskoppe.
NMMU Madibaz II (0)
Evergreens III (41): Drieë - Dylan Weels (linkervleuel), Brendon Lee Levendal (skrumskakel), Ronnie Laminie (agtsteman en kaptein), Vernon Botha (loskopstut), Rezane Abrahams (plaasvervanger slot), Clinton Moolman (plaasvervanger skrumskakel). Curtley Marks (heelagter) slaag met 3 doelskoppe en 'n strafdoel en Moolman klits ook 'n doelskop oor.
NMMU Madibaz III (12): Drieë - Alfredo Fumani (heelagter), Rudhiaan Solomons (skrumskakel). Jacobus Engelbrecht (haker) slaag met 'n doelskop.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'