GRAAFF-REINET NUUS - Die derde jaarlikse interskole tussen die Kroonvale en Graaff-Reinet primêre skole die pas afgelope naweek was uiters suksesvol.
Graaff-Reinet Primêr het as dié jaar se gasheer opgetree.
Verlede Woensdagmiddag is die interskole afgeskop met 'n T20-krieketwedstryd tussen die twee skole se O.13-krieketspanne. Kroonvale Primêr se span het dié wedstryd beklink deur 70 lopies vir vyf paaltjies aan te teken.
Graaff-Reinet Primêr kon nie die mas opkom nie en het slegs 69 lopies aangeteken voordat die span uitgekolf was.
Op Donderdag, 30 Augustus, het Graaff-Reinet Primêr die skaakwedstryde gewen en Kroonvale Primêr die tafeltennis-kragmeting.
Beide die landloop en sokker op Vrydagoggend is gewen deur Kroonvale Primêr, terwyl die hokkie deur Graaff-Reinet Primêr se spannetjie gewen is.
Die netbal en rugbywedstryde die Saterdagoggend het groot aftrek gevind en is die spelers goed ondersteun deur die skool se gemeenskap.
Die O.7-netbalwedstryd is 1 - 0 deur Graaff-Reinet Primêr gewen, die O.8's se kragmeting is ook 7 - 1 deur Graaff-Reinet Primêr gewen terwyl die O.9's se wedstryd 1-elk gelykop eindig.
Graaff-Reinet Primêr se O.10-netbalspan het hul wedstryd 7 - 2 gewen, dié skool se O.11-span het ook hul wedstryd 3 - 2 gewen, asook die skool se O.12-span 12 - 5.
Graaff-Reinet Primêr se O.13's het hul teenstanders 12 - 6 geklop.
Op die rugbyveld het Graaff-Reinet Primêr se O.7-span 15 - 0 gewen, terwyl Kroonvale Primêr se O.9-span 12 - 5 gewen het, die O.11-span 10 - 7 gewen het en die O.12-span 14 - 5 gewen het.
Na tonne aksie tussen die twee skole oor die bestek van 'n paar dae, is die opwindende verrigtinge Saterdagmiddag met 'n prag vertoning deur die twee O.13-rugbyspanne by die Collie Koeberg-sportkompleks afgesluit.
Die spelers het die skare permanent op hul voete gehad en gesorg vir groot opwinding tot en met die eindfluitjie geblaas is.Graaff-Reinet Primêr het die O.13-hokkiestryd 1 - 0 gewen. Foto's: Verskaf
Graaff-Reinet Primêr het hier as wenners uit die stryd getree deur hul teenstanders 53 - 10 te klop.
Die interskole kragmeting se algehele wenner is Kroonvale Primêre Skool met 18 punte teenoor Graaff-Reinet Primêr se 14.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'