GRAAFF-REINET NUUS — Graaff-Reinet se eie wêreldbeker-eindstryde.
Dit is hoe die spelers van Hoër Volkskool se eerste rugby- en hokkiespan die naweek se interskole-wedstryde sien.
Hoër Volskool se rugbyspan pak Union se eerstepan om 16:00 by die Botaniese Sportgronde vir die reg om as die dorp se koning van rugby gekroon te word.
Volkskool het verlede jaar baie naby aan 'n oorwinning gekom, maar met die blaas van die eindfluitjie het die telling op 23 - 20 in Union se guns gestaan.
Na 'n goeie seisoen van voorbereiding, glo kaptein Devan Nel sy Volksie-troepe is gereed om uit hul bure se wurggreep los te breek en 'n derde interskole-nederlaag agtereenvolgens te vermy.
Om dié keer die knoop deur te haak, meen Nel dissipline en en fokus gaan van kardinale belang wees.
Nel is onder geen illusie nie en weet dat sy Volkskool-span hulle moet staal vir 'n massiewe aanslag. "Ons sal met 'n 110% se toewyding moet opdaag om die wedstryd te beklink," sê Nel.
Tydens die huidige seisoen, het Volkskool met ‘n baie jong span goeie rekenskap vanjaar van hulself gegee.
Twee spelers het Volkskool by die Nasionale O.18 Cravenweek-toernooi verteenwoordig, waar hul met goeie spel vorendag gekom het.
Daar was ook twee spelers gekies wat aan die O.19 toernooi deelgeneem het in Reitz. Volkskool het dan ook aan die Despatch-sportfees en jaarlikse Union High Festival deelgeneem.
Gedurende die Junie-skoolvakansie het hulle aan ‘n sporttoernooi te Malmesbury gaan deelneem, waar hulle teen Strand en Brackenfell gespeel het.
Volkskool het altesaam 16 vriendskaplike wedstryde gespeel, waarvan hulle nege gewen en sewe verloor het. Van die nege liga-wedstryde wat Volkskool gespeel het dié seisoen, het hul ses gewen en drie verloor.
Volkskool se eerste hokkiespan, bekend as die Adelaars, gaan Saterdagoggend om 11:15 op Union se Astro hul Union-teenstanders die stryd aansê.
Die kaptein van die eerste hokkiespan, Lynette Ittershagen-Strauss, weet haar span het 'n steil bult om uit te klim.
Hoër Volkskool se eerstespan het jare laas ‘n oorwinning tydens interskole beklink. Die span hoop egter om dié jaar ‘n einde aan Union se wenstreep te sit.
“Die laaste paar weke se voorbereiding was met die oog op interskole. Al het ons nie ’n perfekte seisoen agter die rug nie, glo ek dat ons Saterdag fisies en emosioneel reg sal opdaag en goeie rekenskap van onsself sal gee,” sê Ittershagen-Strauss.
Volkskool spog met drie hokkiespelers wat in dié jaar verkies is om OP te verteenwoordig in hul verskeie ouderdomsgroepe.
Die Adelaars het ‘n baie goeie seisoen beleef waar hulle teen sterk skole kragte gemeet het gedurende die opbou na die liga wedstryde.
Die Adelaars het in die jaarlikse Spar Festival gespeel, Union Festival, asook in die Elsie Coetzer-toernooi in Bloemfontein meegeding.Verder is daar kragte gemeet teen groot skole soos DSG en Kingswood in Grahamstad asook Woodridge, Stirling en Westering in Port-Elizabeth en verskeie ander skole in ander gedeeltes van die land.
Gedurende die jaar het die span ook verskeie spelers gehad wat in hul 50ste wedstryd vir die span verskyn het.
Volkskool het 27 vriendskaplike wedstryde gespeel die seisoen, waarvan hul 9 gewen, 10 verloor en 8 gelykop gespeel het.
Van die 9 liga-wedstryde wat gespeel is, het Volkskool 7 gewen en 2 verloor.
Hoër Volkskool se eerste hokkiespan: (agter) kaptein Lynette Ittershagen-Strauss, Jana Wagener, Zilike de Jager, Tinica Grassman, Caitlin du Preez, Wilke van Zyl, Francene Joubert, (voor) Liezel Nel, Inge van Rooyen, Labre Oosthuizen, Danita van der Merwer, Wadey Minaar en Jana Lategan.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'