GRAAFF-REINET NUUS - Gesoute fietsryer Jakkie van der Colf (77) het verlede Vrydagmiddag op Graaff-Reinet aangekom nadat hy byna die helfte van sy beoogde marathontog van Pretoria na die Paarl met sy fiets kafgetrap het.
Sy rit het ten doel om mense opnuut bewus te maak van die Voortrekkers - 'n landsdiensbeweging vir die jeug.
Van de Colff het op 17 Augustus van die Uniegeboue in Pretoria vertrek en het teen Vrydag reeds 1 121 km van die 2 650 km na die Taalmonument in die Paarl afgelê. Behalwe vir een dag se rus in Bloemfontein, is hy nou al 57 ure pal in sy ysterponie se saal. Hy ry vingeralleen sonder 'n ondersteuningsmotor met al sy bagasie in sakke oor die fiets gehak. Die gesamentlike gewig van sy fiets en bagasie is 43kg.
Dit is nie die eerste langafstand fietsrit wat Van de Colff, wat eers in 2012 begin fietsry het, aanpak nie. Hy het na sy aftrede in 2008 aan depressie gely en begin fietsry om fiks te word en tereg geglo die oefening sal ook sy gees ligter maak. "My seun het vir my 'n veeldoelige boere-bike gekoop en die res is geskiedenis," skerts hy.
Na 'n paar lang ritte deur die land in die daaropvolgende jare, het hy uiteindelik besluit om vanjaar die pad te vat Paarl toe. 'n Vriend van hom, wat 'n Voortrekkerleier is, het hom toe gevra om die beplande tog ten bate van die Voortrekkers te doen. Op daardie stadium het hy nie veel van die beweging geweet nie, maar toe hy sy huiswerk oor hulle begin doen, het hy gou groot waardering vir die Voortrekkers gekry en entoesiasties ingestem om die beweging te bemark.
"Ek is nou skoon jaloers dat ek nie die voorreg gehad het om as kind deel te wees van so 'n beweging nie," sê Van der Colff wat hoop dat menige jongmens in die toekoms by die Voortrekkers sal aansluit.
Waar dit enigsins moontlik is, slaap hy oor in dorpe met hulle eie Voortrekkergroep en word hy hartlik ontvang. In dorpe sonder Voortrekkers maak hy seker almal weet van die beweging voor hy weer wegry.
Hy samel ook fondse in om kinders te borg wat nie kan bekostig om aan te sluit nie en om die Voortrekkers met gemeenskapsprojekte te help.
Die nasionale leier van die Voortrekkers,
dr. Danie Langner, het tydens Van de Colff se kuier in Graaff-Reinet ook die dorp besoek en leerders en ouers by Laer Volkskool toegespreek.
Daar is groot belangstelling in die Voortrekkers en planne word gemaak om 'n tak op Graaff-Reinet te stig.
Van de Colff hoop om op 21 September, na 36 dae op die pad, by die Taalmonument in die Paarl aan te kom.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'