SUID-KAAP NUUS - Die gewilde Feesbasaar word weer hierdie jaar saam met die Meiringspoort-halfmarathon aangebied.
Die flukse dames en manne van De Rust sal reeds Vrydag 13 Oktober vanaf 11:00 gereed wees met die lekkerste eet- en drinkgoed.
Die registrasie van die atlete word vanaf 11:00 tot 21:00 behartig. Atlete moet ‘n afskif van hulle ID saambring as hulle hul nommers kom afhaal. Gaan na www.meiringspoort21.co.za vir alle inligting en reëls rondom die registrasieproses. Atlete moet hulle eie registrasie kom afhaal en niemand sal toegelaat word om 'n ander persoon se registrasie te ontvang nie.
Pannekoek, jaffels, basaarpoeding, chips, braaiburgers, tjops,worsrolle, sosaties, brekkieburgers (Saterdagoggend) en die Karoo-koffiewinkel met heerlike koeke en goeie filterkoffie is weer alles deel van die basaar.
Die gewilde vleistafel met Karoovleis sal Vrydag vanaf 16:00 oop wees en Saterdag vanaf 09:00. Vir die vleistafel is daar kaartfasiliteite, maar die ander tafels word op 'n kontantbasis bedryf. Daar sal hierdie jaar vir die eerste keer 'n Absa-teller beskikbaar wees, maar bring sommer genoeg kontant van die huis af saam.
Die steakete word Vrydagaand vanaf 17:00 bedien. Ons het ook pasta vir die atlete wat nie vleis wil eet die aand voor die wedloop nie.
Kom haal jou registrasie Vrydag al af en kuier lekker by die basaar en Castle-biertent.
Die laaste inskrywings kan Saterdag tussen 4:30 en 5:30 afgehaal word. Atlete moet nie met privaat vervoer deur die Poort gaan nie, maar op die vragmotors klim wat beskikbaar is.
Atlete word gewaarsku dat daar baie padwerke tans tussen Oudtshoorn en De Rust plaasvind. Daar is 2 of moontlik 3 stop/ry-robotte. Maak dus seker dat jy ten minste een uur meer by jou reistyd byvoeg om betyds by die wedloop te wees en genoeg tyd te hê vir parkering soek.
Die wedloop sal onder geen omstandighede laat begin as gevolg van atlete wat nie betyds is nie.
Bring die hele familie saam vir 'n lekker kuier in De Rust by die Meiringspoort-halfmarathon
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'