NASIONALE NUUS - 'n Minimumloon van R20 per uur word in die vooruitsig gestel en sal waarskynlik op 1 Mei 2018 geld. Daarna sal geen werker uiteindelik minder betaal mag word as hierdie absolute minimumloon nie.
Dit sal beteken dat diegene wat 40 ure per week werk, R3 500 per maand sal verdien en dat 45 werksure per week 'n verdienste van R3 900 sal meebring.
Die Regering sien ’n nasionale minimumloon as ’n meganisme om ongelykheid in inkomste te verminder. Adjunk President Cyril Ramaphosa het in 'n aankondiging verlede week oor die minimumloon benadruk dat die loon nie as ’n menswaardige loon geag word nie, maar as ’n begin om die lewens van 6,6 miljoen werkers te verbeter.
Kwytskelding
"Besighede wat die minimumloon nie sal kan bekostig nie, sal vir kwytskelding van tot 12 maande kan aansoek doen. Kwesbare ondernemings wat die voorgeskrewe loon nie sal kan bekostig nie, sal vir bystand oorweeg word binne die beskikbare middele, insluitend aansporings.”
Ramaphosa het aangedui dat die sosiale vennote, onder meer die georganiseerde arbeid, ’n ooreenkoms op kollektiewe bedinging en stakings onderteken het wat hulle verbind om die nodige te doen om geweld, intimidasie en die beskadiging van eiendom sal verhoed.
Wetgewing om die nasionale minimumloon moontlik te maak, sal vervolgens voorberei word terwyl die nodige hersiening aan die relevante arbeidswetgewing ook aangespreek sal moet word. 'n Kommissie sal tot stand gebring word om die minimumloon jaarliks te hersien.
Beide huiswerkers en plaaswerkers sal, hangende ondersoek deur die kommissie binne twee jaar nadat die nasionale minimumloonwet ingestel is, die volle minimumbedrag betaal moet word.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'