NASIONALE NUUS - Die Wes-Kaapse departement van gesondheid het besluit om dringend in te gryp en met 'n masels-veldtog in die provinsie te begin.
Dit volg na daar nege gevalle van masels in Stellenbosch bevestig is. Die veldtog sal van 20 Februarie tot 10 Maart duur.
Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die gesondheidsdepartement, vra hulle dat ouers kinders tussen die ouderdomme van ses maande en vyf jaar na plaaslike klinieke of dokters neem vir 'n inenting.
"Daar sal ook spanne van die departement wees wat speelskooltjies en gemeenskappe sal besoek om te verseker dat soveel kinders moontlik die inenting ontvang. Ouers en voogde van kinders in speelskooltjies word daaraan herinner dat hulle eers vrywaringsvorms moet teken, anders kan die kinders nie die inenting ontvang nie," het sy gesê.
Sy herinner die ouers en voogde dat dié veldtog nie die roetine inentings van kinders vervang nie.
Ferreira vra ook dat die kinders se inentingskaarte of skool toe gestuur word of saam geneem word kliniek toe as hulle die inenting ontvang.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'