MOTOR NUUS - Die Toyota Aygo is reeds sinoniem met styl en oorspronklikheid. Die gewilde kleurskema word gekenmerk deur die prominente klavierswart X wat die voorkant van die motor oorheers.
Hoewel die Aygo op byna twee jaar seker klaar sy karakter gevestig het, wys Toyota Suid-Afrika Motors dat hulle nog nie heeltemal klaar met hom is nie.
Die nuwe Aygo X-Cite is nou by die reeks gevoeg.
Ander modelle sluit die Aygo en Aygo X-Play Black in. Die nuwe X-Cite is vir Suid-Afrikaanse kopers die kans om 'n bekostigbare, kompakte oopdak-luikrug met 'n nuwe wegvou-sagtekap in die hande te kry.
Die X-Cite-sagtekap is in swart afgewerk en in die fabriek gemonteer. Die dak werk elektries met 'n skakelaar langs die kaartleesliggie in die plafon.
Die wegvoudak strek die volle lengte van die motor en verseker dat selfs diegene wat in die agterste sitplekke ry, ook die wind-in-die-hare-ervaring kan geniet.
Die nuweling word deur die vertroude eenliter-VVT-i-petrolenjin wat aan 'n handratkas gekoppel is, aangedryf.
Die X-Cite is ook met voertuigstabiliteits beheer, ligdiode-dagligryligte, 15"-allooi-sierwiele, lugsakke vir die bestuurder en voorste passasier, kantlugsakke en lugsakgordyne sowel as 'n kort daklugdraad toegerus.
Prysbesonderhede:
Aygo - R159 100, Aygo X-Cite - R189 500 en Aygo X-Cite Black - R161 500.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa news'