MOTORNUUS - Verlede Saterdag is die eerste been van die nasionale kwalifiseringsrondtes vir ovaalbaanrenne op George aangebied. Hier moes die renjaers aan al die bene deelneem om te kwalifiseer om aan die SA Kampioenskappe later vanjaar deel te neem.
Sowat 40 motors was in 7 sewe klasse ingeskryf. Sommer in al die klasse was daar hope aksie soos die toeskouers gehoop het.
Die groot trekpleister was die Gemodifiseerde V8-klas. Hier was die twee groot sterre van George in die klas albei ingeskryf: altwee Bennies.
Bennie Greyling teen Bennie de Bruyn was albei in Chev Flexi's. Die tafel was dus gedek en sommer van die eerste uitdun was die gort gaar tussen die twee - met Greyling wat die eerste uitdun gewen het. In die tweede uitdun is die bordjies verhang deur De Bruyn. Die derde uitdun het vir groot drama gesorg toe twee van Benver Racing se karre, te wete Corné Martin en Lodewyk Lotz, na `n onderonsie teen mekaar gebots het. Albei renjaers is vir waarneming hospitaal toe geneem. Die uitdun is met skitterende jaagwerk deur Greyling gewen. Toe kom die eindrondte in die klas met die twee Bennies voor langs mekaar.
Toe die vlag val, was dit Greyling wat die voorste plek losgejaag het. Hy moes talle ernstige aanslae van De Bruyn afweer om die ren met `n skrale haardikte te wen. Nie een toeskouer op die pawiljoene kon bly sit nie.
'n Video-opname van die Martin versus Lotz-insident was binne 24 uur deur 12 000 mense op Facebook bekyk. Dit is te sien op die George Motorklub se bladsy.
Ook in die ander klasse was die stryd baie intens. Johannes Havenga is uitgehaal in die 2.1-klas se eindrondte in sy vinnige Ford Fies-ta. In die Heavy Metal-klas het Nadia van Rensburg-Jubber self ook in die eindstryd getol nadat sy die derde uitdun skitterend gewen het. In die Ontwikkelingsklas het een van die Golfies ook hard met die muur kennis gemaak in hulle hoofren.
Die aand is afgesluit met `n gesellige prysuitdeling en `n lekker sterk bord kerrie en rys om die gemoedere af te koel!
Die SA Nasionale Kampioenskap vind in September in Kimberley plaas.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'