KAROO NUUS - Besighede in die hoofstraat van Molteno sal vandag toe bly, weens ’n woedende skare wat protes oor die feit dat die FNB op dié dorp se deure sluit.
Teen 8vm het Farrah Higgs, bestuurder van die OVK-tak, meegedeel dat ’n groot skare reeds saamgedrom het voor die FNB in die hoofstraat.
Die groot rede vir die ongelukkigheid is dat Standard Bank onlangs gesluit het, en dat FNB ook nou hul deure in die dorp gaan sluit.
“FNB faal die gemeenskap van Molteno, ons sal nie eers meer kleingeld kan kry in die dorp nie,” was die mening van Magdalena Jones, ’n ontstelde kliënt. Die bank het wel meegedeel dat daar mettertyd autobank-fasiliteite geskep sal word.
Talle Standard Bank kliënte het reeds hul rekeninge geskuif na FNB, omdat die bank die enigste aktiewe bank in Molteno sou. Dit het na die grendeltermyn bekend geword dat ook hierdie tak van hul deure moet sluit. Talle kliënte van omliggende dorpe het ook hul besigheid by die banke in Molteno gedoen.
Op hierdie Maandag, die einde van ’n era op Molteno, sal geen besighede in die hoofstraat oop wees vir besigheid nie, aangesien die woedende skare steeds groei.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'