INDWE NUUS - Twee verdagtes is op 26 Januarie vir gewapende roof, motorvoertuigdiefstal en poging tot moord in hegtenis geneem wat in Indwe plaasgevind het.
Volgens lt.kol. Siphokazi Mawisa, polisiewoordvoerder vir die Oos-Kaap, het ’n winkeleienaar, sy vrou en drie kinders, en ’n vriendin, omstreeks 20:07 op Sondagaand 25 Januarie hul winkel in Indwe gesluit en in hul voertuig, ’n Toyota Quantum, geklim toe drie mans die bestuurderskant genader het.
Die verdagtes het die man uit die voertuig getrek en die motorsleutels geëis.
Sy vrou is daarna ook aangerand terwyl sy probeer het om haar man te help.
Die verdagtes, wat aan die vrou bekend was, het na bewering vier skote afgevuur en die man is in sy linkerbeen geskiet.
Die vrou, haar vriendin en die kinders is beveel om uit die voertuig te klim, waarna die verdagtes ingeklim en met die voertuig gevlug het.
“Daar word verder beweer dat die verdagtes gewapen was met twee pistole en een geweer,” het deel Mawisa gesê.
“Geen balaklawas is gedra nie, en geen kontant is van die slagoffers geneem nie. Geen sterftes is aangemeld nie. Vier gebruikte patrone is op die toneel gevind, en die beseerde slagoffer is na die Frontier-hospitaal in Komani vervoer vir mediese hulp. Die gesteelde voertuig is later verlate in Mzamo Township gevind.”
Lede van Indwe Vispol het saam met speurders die saak ondersoek.
Twee verdagtes is omstreeks 09:40 op Maandag 26 Januarie in hegtenis geneem. Die derde is steeds op vrye voet.
Die verdagtes het op Woensdag 28 Januarie in die Indwe-landdroshof verskyn en bly in aanhouding tot hul borgverhoor, waarvan die datum nog nie bekend is nie.
Die distrikskommissaris, genl.maj. Rudolph Adolph, het die vinnige reaksie van die Indwe-polisie geprys en gesê dit weerspiëel die lede se toewyding om die veiligheid en sekuriteit van die gemeenskap te verseker.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’