HOFMEYR NUUS - Die eienaar van Almubarak Store, Salim Suliman, algemene handelaar van Twinsville, Hofmeyr, is die afgelope week van al die kontant in sy winkel beroof.
Suliman het net na die oopstel van grense in grendeltyd na sy tuiste in Bangladesh vertrek, aangesien hy vir 'n geruime tyd nie sy gesin gesien het nie.
Sy winkelassistent, Rae Ross, was alleen in die winkel toe vier klante Maandagaand net voor 19:00 by die deur instap vir inkopies. Die winkel is gewoonlik tot 19:00 oop.
"Toe die laaste man instap en die deur van die binnekant af sluit, toe weet ek hier is moeilikheid," sê Ross.
Almubarak Store is ook die enigste winkel in Hofmeyr waar buskaartjies gekoop en kontant oorplasings gedoen kan word. Volgens 'n ooggetuie moes almal in die winkel hul selfone en kontant op die toonbank neersit.
Al die kontant is gesteel, maar gelukkig het Ross ongedeerd daarvan afgekom. Die groep is hierna na buite waar 'n voertuig gewag het en hulle gevlug het.
"Nie een van ons het 'n selfoon gehad om die polisie te kontak nie en dit het 'n geruime tyd geneem voordat ons hulle kon skakel," sê Ross.
Die rooftog het egter 'n baie nadelige effek op die besigheid gehad aangesien daar geen kontant beskikbaar was om aankope vir die maandeindtoeloop te doen nie.
Suliman sal binnekort terugkeer vanaf Bangladesh om na sy besigheidsbelange om te sien.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'