GRAAFF-REINET NUUS - Cradock het al vir 80 jaar ‘n effektiewe belastingbetalersvereniging, maar hoewel baie van hul lede ook behoort aan die Cradock Besigheidsforum, het hulle feitlik geen effek op besluite van die munisipale raad nie.
Belastingbetalers probeer om ‘n verskil te maak, nie net deur die belasting wat hulle betaal nie, maar deur die insette wat hulle lewer en persoonlike betrokkenheid.
Des nie teen staande het Retief Odendaal, LP van die Oos-Kaapse Wetgewer, het onlangs belastingbetalers in die Oos-Kaap genooi om opnuut betrokke te raak by belastingbetalersverenigings in dorpe.
Aktiewe burgerskap bevorder
“Gemeenskappe regoor die Oos-Kaap het nou 'n kragtige geleentheid om 'n aktiewe rol in plaaslike bestuur te neem deur die stigting van formele belastingbetalersverenigings.
Hierdie verenigings stel inwoners in staat om direk betrokke te raak om munisipale rade aanspreeklik te hou, wat deursigtigheid en beter dienslewering bevorder."
Odendaal sê hy en die DA is gereed om gemeenskappe te ondersteun in die oprigting van hierdie onafhanklike liggame, wat 'n deurslaggewende rol kan speel om diensleweringskwessies aan te spreek en verantwoordbare bestuur te bevorder.
Inwoners word aangemoedig aktiewe burgerskap te bevorder, wat kan help om eiesinnige rade aanspreeklik te hou.
Munisipaliteite feitlik bankrot
Byna 'n derde van Oos-Kaapse munisipaliteite is feitlik bankrot.
Die meerderheid Oos-Kaapse munisipaliteite sukkel ook om hulle grondwetlike mandaat in die verskaffing van basiese dienste aan hulle inwoners na te kom.
Aangesien munisipaliteite geen ander keuse het as om formele belastingbetalerstrukture te erken nie, is daar 'n geleentheid vir hierdie strukture om broodnodige advies en vaardighede aan plaaslike rade te bied.
Breindrein van kundiges
“Oor die laaste paar jaar was daar 'n breindrein vanuit die regering, veral van ons munisipaliteite. Dit is dus noodsaaklik dat ons kundigheid van die burgerlike samelewing gebruik om te help met die regruk van ons munisipaliteite."
Enige persoon wat belangstel om 'n onafhanklike, formele belastingbetalersvereniging te stig, kan hul plaaslike DA-raadslid of Retief Odendaal direk kontak.
‘n Wetlik gekwalifiseerde span sal jou bystaan deur 'n konsepgrondwet en advies te verskaf oor hoe om 'n suksesvolle vereniging te stig en te bestuur.
“Elke stad en dorp in die Oos-Kaap word dus nou versoek om hulle toekoms in eie hande te neem deur weer aktiewe burgers te word, aangesien die projek om Suid-Afrika te red 'n gesamentlike poging van ons almal gaan verg,” sê Odendaal.
Kontak Retief Odendaal by 082 462 0668 of retiefodendaal1@gmail.com.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’