MIDDELBURG NUUS - Inwoners van Middelburg is hande in die hare want dié dorp sit al vir dae lank hoog en droog sonder enige water.
"Die tragedie van die hele aangeleentheid is dat talle inwoners nie 'n toegeruste watertenk op hul erf het nie - daardie inwoners moet nou ten duurste water aankoop - en daarom gaan alle infrastruktuur wat van water afhanklik is, ook nou tot niet," sê 'n ontstelde inwoner.
"Dit blyk dat die weergawe dat die hele dorp veronderstel is om water uit die Middelburg-reservoir te kry, loutere onsin is.
Slegs die suidelike deel van Middelburg kry water uit die reservoir, maar die noordekant moet hul water kry vanaf Grootfontein Landboukollege.
Daar word dus vanselfsprekend ook water herlei na Midros."
Brief aan minister
Raadslid Heinrich Muller, LUR, het in 'n sterk bewoorde brief aan die minister van koöperatiewe regering en tradisionele sake, Xolile Williams, versoek dat hierdie aangeleentheid onmiddellik aandag moet geniet.
Hy het daarop gewys dat Cradock (Nxuba) ook deur dieselfde waterkrisisse lamgelê word.
"Die slagpale buite Middelburg word ook lamgelê; vleis kan nie verskaf word, voertuie kan nie ontsmet word nie en daar is ook geen water beskikbaar om die verspreiding van bek-en-klouseer te bekamp nie," het Muller gesê.
"Met die verloop van tyd was verskillende mense aangestel om nuwe pompe te koop, maar hierdie pompe lewer steeds nie die diens wat nodig is nie, en baie is stukkend."
Hy het ook beklemtoon dat woonbuurte uitgebrei het en nuwe huise gebou is, en hoewel die water meer as voldoende was toe die reservoirs en pompe oorspronklik opgerig is, daar nou nie naastenby voldoende water vir die uitgebreide gemeenskappe is nie.
Munisipaliteit sit water af
Inwoners het ook hul ontevredenheid uitgespreek oor 'n verklaring deur die plaaslike munisipaliteit, waarin hulle meegedeel is dat die water vir 'n sekere tyd van drie ure snags afgesny gaan word as gevolg van die waterskaarste.
"Dit was dan presies in daardie tye wat hier water was! Dis die res van die tyd afgeskakel," het 'n verontwaardigde Marcelle Botha gesê.
Volgens 'n ander inwoner, Myrtle van Dyk, affekteer die waterskaarste ook vir Kwanonzame en Lussaka, wat by tye geen water het nie, asook Midros.
Watertoevoer word van 08:00 tot 09:00 afgesit.
"By Matjieskloof word waterpype deesdae bloot afgekap sodat daar water is vir die beeste wat daar wei," sê Van Dyk.
Sanitasie en vuil wasgoed
'n Faktor wat grootliks bydra tot die inwoners se ontevredenheid is dat geen spoeltoilet werk wanneer daar geen water is nie.
"Hierdie probleem is nie net 'n Middelburgprobleem nie," stel 'n inwoner dit duidelik.
"Die munisipaliteit sal wel in 'n noodgeval 'n watertenk op 'n erf kom opvul, maar dan is daar dikwels reeds 'vissies' in die water."
Raadslid Richard Jacobs se verslag ná 'n besoek by die tehuis vir bejaardes in Midros skets ook 'n skokkende prentjie."
'n Ondraaglike stank het my oorval toe ek die waskamers van die tehuis binnestap. Groot vragte wasgoed het oor die vloer gestrooi gelê, en sommige lê reeds dae daar," sê hy.
"Daar is geen water beskikbaar om hierdie wasgoed te was nie. Die personeel van die tehuis het nou geen ander plan as om inwoners met Wet Wipes te 'was' nie."
Geen antwoord by munisipaliteit
Die watervoorsiening vir die Inxuba Yethemba plaaslike munisipaliteit word deur die Chris Hani-distriksmunisipaliteit bestuur.
Geen reaksie is ontvang op 'n navraag wat aan die Chris Hani munisipale bestuurder, Sanele Nihyeke, gerig is nie, en 'n oproep na die inbelsentrum waar waterklagtes aanhangig gemaak kan word, is nie beantwoord nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’