GRAAFF-REINET NUUS - Prof. Dorothea van Zyl, voormalige dosent aan die US en boorling van Graaff-Reinet, het tot die pleknaamdebat waarin Graaff-Reinet tans ’n hoofrol speel, toegetree.
“Die nuwe name wat min. Gayton McKenzie onlangs vir 21 Oos-Kaapse dorpe aangekondig het, veroorsaak heelwat vrae, veral die verandering van Graaff-Reinet na Robert Sobukwe Dorp,” sê sy.
Sy vertel dat verandering van plekname wêreldwyd al vir eeue gebeur: Latynse name uit die Romeinse ryk is lank gelede vervang, asook Duitse plekname ná die twee wêreldoorloë.
Sankt Peterburg (St. Petersburg), wat in 1703 deur Peter die Grote gevestig is, is ’n goeie voorbeeld: In 1914 word dit verrussies tot Petrograd en in 1924 word dit Leningrad om Vladimir Lenin te vereer.
Na die Sowjetunie se ineenstorting word dit in 1991 weer St Petersburg.
Hierteenoor lyk die verandering van die Oos-Kaapse plekname ekonomies en kultureel sinneloos, sê sy.
Nadat die minister van sport, kuns en kultuur, Gayton McKenzie, in Julie 2024 gesê het daar is “groter kwessies … wat aandag verg”, keur hy op 26 Januarie 2026 tog 21 naamsveranderings goed, al het die Oos-Kaap meer werklose as werkende mense.
“Boonop was daar geen referendum nie.
Prof. Ronnie Donaldson van die Universiteit van Stellenbosch het bevind dat 83.6% van al Graaff-Reinet se inwoners teen die naamsverandering gekant is,” sê Van Zyl.
Graaff-Reinet is reeds eeue lank die historiese en kultuursentrum van die Groot-Karoo wat talle besoekers lok.
Hierdie werkskeppende toeriste-industrie kan groot skade ly.
Graaff-Reinet het, as vierde oudste dorp in die land, sedert sy stigting in 1786 ’n groot geskiedkundige rol gespeel.
Dr. Beyers Naudé en Robert Sobukwe is hier gebore.
Naudé het aan Hoër Volkskool gematrikuleer en Sobukwe was hier op laerskool. Van Zyl sê dat Naudé ’n prominente rol in die ANC gespeel het, terwyl Sobukwe ’n verdelende, eksklusiewe Afrikanistiese leier was wat die ANC verlaat het om die PAC te stig, uit protes teen die inklusiewe, veelrassige inslag van die Vryheidsmanifes.
In 2016 is Naudé deur die Dr. Beyers Naudé-distriksmunisipaliteit vereer.
Robert Sobukwe word gehuldig deur straatname in Pretoria en Kaapstad, gebouname by Rhodes en Wits, asook met die Robert Mangaliso Sobukwe Museum en leersentrum, én ’n standbeeld in Graaff-Reinet.
“Graaff-Reinet staan immers histories los van enige ideologiese strewes tot koloniale uitbreiding.
Daarom is dit onsinnig om name uit die 1700’s te verander. G
raaff-Reinet is ’n boekvoorbeeld van sinlose naamsverandering,” sê Van Zyl.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’