Gallery Video
KAROO NUUS EN VIDEO'S - Van verskillende plase in die uitgebreide distrik van Hofmeyr tot sover as Molteno het die boere en hul vroue op 11 Maart, rondom 18:30, na hul selfone gegryp om ’n indrukwekkende natuurverskynsel bo die horison, in die oop blou hemelruimte, op film vas te lê.
Foto’s deur Charles Jordaan wys vreemde wolkformasies teen ’n oranje sonsondergang, wat binne minute van vorm verander het.
Elana Scorgie van Culmstock, naby Schoombee, het dieselfde vreemde sonsondergang waargeneem, maar op die teenoorgestelde horison het daar ook ’n tuitvormige blou ligstraal gevorm.
Hierdie ligstraal was ook sigbaar vanaf Allemansvlei, sowat 60 km daarvandaan, waar Ettienne Roux dit ook opgemerk en afgeneem het.
FOTOGALERY: Vreemde fenomeen in Hofmeyr- en Molteno
Op presies dieselfde tyd het Deon Botha in die Molteno-distrik ’n spierwit reënboogvormige ligstraal oor sy bergplaas waargeneem.
Liezel Henning, ’n fotograaf van Hofmeyr, kon dié vreemde verskynsel opklaar. Dit blyk dat dit as antikrepuskulêre strale bekendstaan. Hierdie verskynsel vind plaas wanneer sonlig met ’n lae hoek deur wolkbedekking geblokkeer word en op die teenoorgestelde horison sigbaar raak.
Vreemde wolkformasies was reeds vroeër die middag oor De Keur sigbaar. Foto: Charles Jordaan
Video 1: Elana Scorgie van Culmstock, Schoombee
Video 2: Deon Botha van die Molteno-distrik
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’