ABERDEEN NUUS - Die gemeenskap van Aberdeen was Dinsdag in rep en roer na ‘n vierjarige meisie ontvoer is en Woensdagmiddag eers deur lede van die gemeenskap gevind is.
Die kind word steeds in die hospitaal vir ernstige beserings behandel.
Een man is ook in tussen vir haar ontvoering in hegtenis geneem.
Die polisie het Woensdag, in samewerking met die plaaslike gemeenskap, ‘n uitgebreide soektog na die meisie van stapel gestuur.
Die gemeenskap van Aberdeen het in groepe van vroeg Woensdagoggend af reeds die hele dorp en omliggende gebiede buite die dorp begin fynkam.
Namiddag is die kind deur een van die gemeenskapslede in die veld aangrensend tot die N9 buite die dorp teen die kop waarop die kenmerkende Aberdeen-kruis opgerig is gevind. Die kind is halfnaak, met haar klere 'n ent weg van haar, totaal uitgeput en gedehidreerd gevind. Na bewering het sy Dinsdagnag daar in die veld deurgebring.
Von Wieling, ‘n bekende gemeenskapsleier in die dorp, was nou betrokke by die soektog Volgens hom is die kind by haar ouerhuis in Lotusville deur 'n man, wat bekend is aan die kind se maatjie wat ook by die huis was, genader. Die man het na bewering aanvanklik beide kindertjies weggelok met 'n belofte van aartappelskyfies wat hy vir hulle sou koop.
“'n Entjie weg van die huis af het hy egter die kind, wat aan hom bekend is, teruggestuur huis toe en met die vierjarige kind verder geloop.”
Volgens Von Wieling is die ouers van die vierjarige Woensdagaand in hegtenis geneem. Die klag teen hulle is nie bekend nie, maar die arrestasie is ook deur familie bevestig.
Die verdagte wat na bewering die kind ontvoer het, is Woensdagaand deur die gemeenskapslede aangekeer en aan die polisie oorhandig.
‘n Navraag is aan die polisie gestuur, maar geen terugvoer is nog ontvang nie.
Hierdie is 'n ontwikkelende storie en sal opgedateer word soos nuwe inligting bekendgemaak word.
Die kind se ouerhuis soos gesien van die rigting vanwaar die verdagte die kinders genader het.
Foto geneem van waar die kind gekry is met Lotusville op die agtergrond.
Die bekende kop met die Aberdeen-kruis.
Die gebied langs die rivierloop waarlangs die kind weggeneem is met die Aberdeen kop in die vêrte op die agtergrond.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'