Update
CRADOCK NUUS - ’n Vragmotorbestuurder wat tereg staan op vier aanklagte van strafbare manslag sou vandag, 8 September, in die landdroshof op Cradock verskyn na ’n grusame motorongeluk waarin vier mense dood is.
Volgens Unathi Binqose, woordvoerder van die Departement van Vervoer in die Oos-Kaap, het die ongeluk wat rondom 08:00 Saterdagoggend, sowat 20 km vanaf Cradock, op die N10 gebeur het toe een swaar vragmotor ’n ander vragmotor verbygesteek en oor ’n aankomende motorvoertuig gery het.
Twee vroue en twee kinders is op slag dood.
Die voertuig het kort na die ongeluk ook vlamgevat, en binne minute het die voertuig en die vragmotor tot as verbrand terwyl noodreddingswerkers magteloos moes staan en toekyk.
Die oorledenes is geïdentifiseer as Michelle Collarossi (30), Christelle Swanepoel (41), en haar twee kinders, Jason Burton (22) en Janke Pressley (16).
Collarossi se twee minderjarige kinders was tuis in die sorg van hul pa.
Diep hartseer
Die gemeenskap van Cradock is geruk deur die dood van die vier mense, wat volgens inwoners elke oomblik voluit geleef het en baie geliefd was in die kringe waarin hul beweeg het.
Cradock Hoërskool het vroeg vanoggend ’n omvattende huldeblyk uitgereik vir al vier die oorledenes. Janke Pressley was ’n gr. 10-leerder by die skool en die drie ander insittendes was oudleerders.
Vriende en familie het met oorweldigende hartseer gereageer nadat die nuus bekend geword het.
’n Facebook-inskrywing van ’n inwoner, Durby-Ann Swart, het gesê ’n donker wolk waarvan die diepte nie gemeet kan word nie, oor die Cradock-gemeenskap hang.
Sy het gesê geen mens kon weet hoe ’n groot impak hierdie hoeveelste ongeluk op die N10 op die Cradockgemeenskap sou hê toe die ambulans- en polisiesirenes weer net na 08:00 die Saterdagoggendvreugde op 6 September skeur nie.
Departement versoek om in te gryp
Heinrich Muller, LUR en Oos-Kaap Middelande se kiesafdelingleier, het vanoggend versoek dat die Minister van Vervoer, Barbara Creecy, onmiddellik die groeiende vragvervoer wat Cradock (Nxuba) teister, moet aanspreek.
“Oor slegs drie dae is drie groot ongelukke aangemeld, en dit gaan daagliks so,” het Muller gesê. “Die N10 is oorlaai, bestuurders is oormoeg en haastig, en geen reisiger is veilig op die roete nie.”
Muller het reeds op 13 Augustus versoek dat die Oos-Kaapse LUR vir Paaie en Vervoer, Xolile Nqatha, die volgende oplossings sal oorweeg om die probleem op te los:
- Vestig 'n toegewyde vragmotorstop en parkeerfasiliteit buite die dorpsgrense.
- Verbeter verordeningsafdwinging in vennootskap met die Inxuba Yethemba Plaaslike Munisipaliteit om nie-nakoming te voorkom, infrastruktuurskade te penaliseer en verantwoordelike gedrag te bevorder deur middel van boetes, wat vir padonderhoud afgebaken is.
- Werk saam met die nasionale regering om hierdie gedeelte van die N10 as 'n tolroete te verklaar, wat nasionale befondsing vir instandhouding moontlik maak en die las op die munisipaliteit verminder.
Inwoners en besighede wat na Gqeberha moet reis, is vreesbevange om die roete aan te pak.
Hoewel dit aanbeveel word dat reisigers voor 08:00 soggens vertrek, is dit geen waarborg van beter verkeersvloei nie.
Swaar vragmotors reis regdeur die nag deur dié dorp en vermy oornagtye, aangesien daar dikwels probleme met diefstal van vrag en diesel is wanneer hulle binne die munisipale grense stop.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’