NXUBA NUUS - Ernstige brandskade by die JA Calata Senior Sekondêre Skool in Nxuba het die verwoestende gevolge van verlate en onderbefondste skoolinfrastruktuur projekte in die Oos-Kaap blootgelê.
Graaff-Reinet Advertiser het reeds voorheen met Horatio Hendricks, Lid van die Provinsiale Regering en Skadu-LUR vir onderwys, gesels rondom dié skoolgebou, wat as gevolg van skade aan die infrastruktuur, in onbruik geraak het.
Hierdie skool is die mees onlangse gebou wat opgerig is om 1 200 leerders vanuit Lingelihle met hul senior sekondêre onderrig te bedien.
Volgens verslae wat op 8 Mei ontvang is, is die skool deur ’n brand verwoes na beweerde brandstigting, omdat kontrakteurs die terrein verlaat het weens wanbetaling deur die Oos-Kaapse departement van onderwys.
“Nadat werk gestaak is en die terrein onbeveilig gelaat is, het die onvoltooide infrastruktuur kwesbaar geword vir vandalisme, diefstal en uiteindelik vernietiging.
Leerders is na ander skole verplaas wat weer bykomende druk op naburige skole geplaas het, wat die oorloop moes absorbeer,” deel Hendricks mee.
“’n Volledige verslag van die omstandighede rondom die verlating van die JA Calata-projek, die wanbetaling van kontrakteurs, sekuriteitsfoute op die terrein, is aan die voorsitter van die provinsiale onderwysportefeuljekomitee aangevra.
Wat sake vererger, is dat dit ’n welbekende feit is dat die verwoesting by JA Calata Senior Sekondêr, nie as ’n geïsoleerde voorval afgemaak kan word nie.
Dit weerspieël ’n breër infrastruktuurkrisis binne die departement van onderwys,” deel Hendricks mee.
Dié departement het in reaksie op navrae bevestig dat 138 infrastruktuur-projekte wat vir die 2025/26-boekjaar geïdentifiseer is, weens begrotingsbeperkings tot slegs 86 projekte verminder is, terwyl 52 projekte uitgestel is.
Die departement het verder bevestig dat slegs ses projekte gedurende die huidige boekjaar voltooi is, terwyl 35 steeds onder konstruksie is en 22 projekte opgeskort of beëindig is.
Nog meer kommerwekkend is die departement se erkenning dat R154 miljoen reeds aan beëindigde projekte regoor die provinsie bestee is.
Dit het ook bekend geword dat nie ’n enkele nuwe baksteen-en-sement-skool die afgelope vyf jaar in die Oos-Kaap gebou is nie.
Die gevolge vir leerders is oorvol skole, projekte wat vir jare lank verlate staan, gemeenskappe word met onvolledige infrastruktuur gelaat, en openbare bates word kwesbaar vir vandalisme en vernietiging.
Rekenskap word geëis van hoeveel ander skoolprojekte tans aan soortgelyke risiko’s blootgestel is, watter sekuriteitsmaatreëls by verlate konstruksieterreine in plek is, en hoeveel leerders steeds geraak word deur stilstaande infrastruktuurlewering.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’