MOLTENO NUUS - 'n Padongeluk op die R56, naby die Henningkruising, sowat 26km vanaf Molteno en 35km vanaf Steynsburg, het Sondagmiddag 21 Desember, die lewens van twee persone geëis.
Volgens Unathi Binqose, Oos-Kaapse woordvoerder van die Departement van Vervoer, het die ongeluk om 12:30 plaasgevind.
Die pad was vir 'n wyle gesluit vir die opruim van die toneel en verkeer is herlei na die R391 grondpadroete, wat in 'n swak toestand was ná reën in die omgewing.
Volgens Binqose het die bestuurder van 'n Hyundai Exter beheer oor die voertuig verloor en dit het teen die brug op die R56-pad gebots.
Daar was vyf insittendes. Twee mense is op die toneel dood, insluitend die vroulike bestuurder. Een ander persoon is ernstig beseer terwyl twee ongedeerd daarvan afgekom het.
Die beseerdes is na die Molteno-hospitaal gehaas.
'n Saak van strafbare manslag is vir verdere ondersoek geopen.
Die voertuig het met die brugreling gebots. Foto: Departement van Vervoer
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’