MIDDELBURG NUUS - Trots Middelburg het op 27 September die reusetaak aangepak waartydens die Midros-gemeenskapstuin verfraai is.
Talle vrywilligers het om 07:00 opgedaag en daar is behoorlik gewerk dat die stof staan om die tuin weer skoon te kry.
Elkeen moes sy eie toerusting gebruik en die gemeenskap het opgedaag met harke, grawe, tuinhandskoene, tuinskêre, sonhoede en bottels met drinkwater.
Natuurlik was ’n deeglike laag sonskerm ook nodig.
Groot voersakke waarin die vullis gegooi moes word het opgedaag saam met kruiwaens, tuinslange en Trots Middelburg het ook ’n JOJO-watertenk saamgebring.
Net so kort voor 11:00 het ’n bakkie met ’n uiters gewillige medehelper opgedaag, en daarna is die sleepwa telkemale gevul om tuinvullis weg te ry.
Alle indringerplante, kaktusse, ongewenste plantegroei en onkruid is verwyder.
Daarna is die wêreld omgedolwe en daar is kleurryke vetplante en talle turksvye, wat tot bome sal groei, geplant.
Volgens Jeannie Venter van die organisasiekomitee, wil Trots Middelburg baie graag meer bome en ander plante plant, maar niks kan gebeur voordat die watersituasie nie uitgesorteer is nie.
Sodra dit reg is, sal hulle voortgegaan om bome en plante te plant wat by die area sal inskakel.
Die projek gaan oor ’n tydjie strek, dus sal daar vorentoe nog geleenthede wees om saam te kan woeker.
Om die dag nog meer besonders te maak kon almal wat daar was, Lloyd Huntley van Noort, plaaslike tuinier van formaat, se demonstrasie om 10:00, bywoon.
Hy het almal geleer hoe om aartappels in bande te plant vir ’n suksesvolle aartappeltuin tuis.
Die kleinspan het hierdie demonstrasie baie geniet.
Trots Middelburg is opgewonde oor almal se entoesiasme en bereidwilligheid.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’