KAROO NUUS - Tik is deesdae oral vrylik beskikbaar. Ook in Graaff-Reinet en in elke klein dorpie in die Oos-Kaap.
Selfs kinders onder tien het toegang daartoe en tikverslawing blyk een van die grootste oorsake van groeiende misdaadstatistieke in die provinsie te wees.
Adjudant-offisier Majola Nkohli, woordvoerder van die Oos-Kaapse polisie, het aan Graaff-Reinet Advertiser gesê dat tik die mees algemene dwelm in die Sarah Baartman-distrik is.
Mense word daagliks gearresteer vir besit van dié dwelm, of vir handel daarin.
Geweld tweeledig
Tik staan ook bekend as crystal meth of ice en is beskikbaar in korrel-, kristal- of poeiervorm. Dit is hoogs verslawend en talle misdade word onder die invloed van die dwelm gepleeg, terwyl gebruikers ook oortredings pleeg om hul verslawing te finansier.
Nkohli het die volledige register aan die Advertiser beskikbaar gestel waar syfers vir die Sarah Baartman-distrik aangedui word.
Hy sê die toename in dwelmgebruik en dwelmhandel in die distrik wek groot kommer. 'n Ouma van Cradock het vertel dat kindertjies van net 9 jaar oud in haar omgewing verslaaf is en sy bid dat haar eie kleinkinders gespaar bly.
Ouers bang vir kinders
Sosiale mediagroepe en misdaad-whatsappgroepe word, veral oor naweke, oorval deur versoeke van ouers en bejaardes wat deur jeugdige tikverslaafdes aangerand, gemolesteer en mishandel word.
Inbrake, brandstigting, diefstal, aanranding, ernstige aanvalle en selfs moord, is algemeen in talle woonbuurte in Graaff-Reinet.
Dit blyk uit die misdaadstatistieke, waar tikverslaafdes alle beheer verloor en eenvoudig reageer op onbeheersde impulse. Natuurlik is nie alle misdade tikverwant nie, maar tik speel wel 'n reuse rol in die statistieke.
Tikverslawing 'n krisis
Yusuf Cassim, DA LP en Oos-Kaapse skaduminister vir gemeenskapsveiligheid sê die vlakke van tikverslawing is 'n krisis. Die jongste misdaadstatistieke, wat op 30 Augustus vrygestel is, vir beide die vierde kwartaal van 2023/24 en die eerste kwartaal van 2024/25, laat die provinsie soos 'n oorlogsone lyk.
Die voorsitter van die gemeenskaps-veiligheidsportefeulje, Tumeka Gaya, is gevra om die provinsiale polisiekommissaris, luitenant-generaal Nomthetheleli Mene, te ontbied om op die kwartaallikse misdaadstatistieke te reageer.
Geweld voer botoon
In net ses maande het 2 328 mense in die Oos-Kaap hulle lewens verloor weens geweld.
Die voorkoms van seksuele misdrywe is ook ontstellend hoog. Met 3 768 seksuele misdrywe in dié tydperk is die Oos-Kaapse syfer die hoogste in die land.
Motorkapings het in die vierde kwartaal met 46% gestyg, met 534 gevalle wat aangemeld is, gevolg deur 513 gevalle in die eerste kwartaal, 'n toename van 30%. Vragmotorkapings is ook 'n krisis met 117 vragmotors wat die afgelope ses maande gekaap is.
Nie net syfers, dis mense
Cassim waarsku daarteen dat hierdie statistiek bloot getalle word.
"Elke syfer verteenwoordig 'n persoon wie se lewe deur misdaad geraak is. Ons moet saamwerk om die gety van geweld om te draai en veiligheid en waardigheid vir die mense in die Oos-Kaap te herstel. Gemeenskappe moet bemagtig word om die golf van tik- en dwelmafhanklikheid hok te slaan, sodat kinders en jeugdiges ingeligte besluite kan maak."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’