OOS-KAAP NUUS - Die Oos-Kaapse Provinsiale Regering doen 'n beroep op gemeenskappe, ouers en naasbestaandes om dringend gevalle van seksuele oortreding teenoor kinders aan te meld.
Dit kom na aanleiding van 'n skokkende verslag oor die aantal jong meisies wat tussen April en Julie vanjaar in staatsfasiliteite geboorte gegee het.
'n Verslag van die Oos-Kaapse Gesondheidsdepartement het aan die lig gebring dat altesaam 117 kinders van 10 to 14 jaar oud in dié tydperk in Oos-Kaapse openbare hospitale geboorte geskenk het.
'n Verdere 4 752 tieners, van 15 tot 19 jaar oud, het ook in dieselfde tydperk in openbare fasiliteite geboorte gegee.
Die hoogste syfers is in die OR Tambo-distrik aangeteken, gevolg deur Buffalo City en Nelson Mandelabaai.
Statutêre verkragting
Die woordvoerder van die provinsiale regering, Khuselwa Rantjie, het gesê die SAPD het bevestig dat verskeie verkragtingsake van minderjariges aanhangig gemaak is, met sommige wat reeds voor die howe is.
Drie sake is ook teruggetrek - volgens Rantjie 'n aanduiding van hoe groot die uitdaging is.
Sy het families en naasbestaandes sterk aangespoor om nie aanklagte rakende seksuele oortredings teen minderjariges terug te trek of te laat vaar nie, aangesien dit die regstelsel ondermyn en verhoed dat die wet sy gang gaan.
Sy het gesê die provinsiale regering veroordeel ook sterk enige volwassene wat seksuele omgang met minderjariges het.
Sulke dade is statutêre verkragting en sal met die volle mag van die wet bekamp word.
Diep kommerwekkend
Bukiwe Fanta, LUR vir maatskaplike ontwikkeling, het gesê die statistieke is diep kommerwekkend en bygevoeg dat die provinsiale regering steeds daartoe verbind is om die veiligheid en welstand van kinders te verseker.
“Dit is onaanvaarbaar dat kinders so jonk as 10 jaar geboorte gee. Hierdie situasie vereis onmiddellike ingryping en 'n samewerkende benadering om ons jeug te beskerm,” het sy gesê.
Intussen het die Oos-Kaapse LUR vir gesondheid, Ntandokazi Capa, gesê dat die syfers 'n kind verteenwoordig wie se onskuld gesteel is, en wie se toekoms te vroeg tot volwassenheid gedwing word.
“Seks met 'n minderjarige is statutêre verkragting, en ons sal dit nooit normaliseer of aanvaar nie.
Elke geval wat in ons fasiliteite voorkom, word aangemeld, en ons sal voortgaan om met die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling en die SAPD saam te werk om jong meisies te beskerm,” het sy gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’