CRADOCK-NUUS - Die gesellige breigroep by die Elizabeth Jordaan-tehuis in Cradock brei en hekel talle artikels vir verspreiding deur Solidariteit Helpende Hand.
Kindertruie, babadrag, kniekomberse, enkelbedkomberse, babakombersies en serpe word aan mense in nood verskaf.
Die wol word gratis deur Helpende Hand Cradock en Hofmeyr verskaf.
Die groep skrik ook vir geen uitdaging nie, en ongeag van die wol, gare of draad wat afgelewer word, word dit verwerk en benut.
Daar is al badmatte en bedkouse aan tehuise vir bejaardes verskaf. So pas is 100% suiwer katoen gehekelde oorgooidekens in pragtige roomkleur ook voltooi.
Die breisakke bult wanneer die dames vanuit alle windrigtings in die pragtige kuierlokaal opdaag om te woeker.
Die kaggel brand ook wanneer dit effe koeler as knus raak, en die geselskap, wenke, raad, nuwe idees en patrone, en vrolike grappe, droog nooit op nie.
Elfie Strydom van Helpende Hand Cradock kollekteer die breiwol, soms regtig net oorskietbolletjies of mislukte pogings wat losgetorring moet word.
Jeannette Bezuidenhout organiseer die byeenkomste, is in beheer van die breidraad, monitor die projekte en bestuur die aflewerings.
Teresa Opperman bring nuwe wol direk van die fabriek saam van die Hofmeyr Helpende Hand, en ook bokse vol gebreide en gehekelde blokkies wat deur seniors gebrei word en dan deur dié breigroep in artikels omskep word.
Dit bring groot vreugde, nie net onder die ontvangers nie, maar ook onder die breiers!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’