OOS-KAAP NUUS - Daar is sterk teenkanting in plaaslike geledere teen die departement van gesondheid se voorgenome inisiatief om die kommunikasiestelsel vir mediese nooddienste te sentraliseer.
Die inisiatief, wat in 'n konsepdokument bekend gemaak is, behels dat die Sarah Baartman mediese nooddienste se oproepsentrum na Gqherha verskuif word, waar oproepe elektronies opgeneem en versend sal word.
Beide Jane Cowley, die DA woordvoerder vir gesondheid in die provinsie, en Graaff-Reinet wyksraadslid Ricardo Smith, het hulle sterk hierteen uitgespreek.
Volgens Smith is daar ook ontsteltenis onder die publiek en mediese nooddienste in Graaff-Reinet.
Graaff-Reinet Advertiser is in besit van 'n petisie wat hy Saterdag 28 Junie geloods het wat deur lede van die publiek onderteken kon word.
In 'n telefoniese mediaverklaring sê Cowley dat sentralisering deur middel van elektroniese kommunikasie nie die oplossing is vir die uitdagings wat mediese nooddienste in die oë staar nie.
Wat nodig is, is dat die mediese nooddienste effektief toegerus en effektief ondersteun moet word. Sy sê die departement moet interne beheer en interne rekenskapstelsels ontwikkel om dienste te verbeter.
Cowley het in 'n brief 'n dringende versoek aan die MEC vir gesondheid gerig om hierdie "foolhardy proposal" terug te trek.
Hiermee stem Smith saam.
Daarbenewens voer hy aan dat die gemeenskap nog langer sal wag op die hulp van nooddienste as hulle eers oproepe na Gqeberha moet plaas, waarna die inligting terug oorgedra moet word na Graaff-Reinet se mediese dienste voordat 'n ambulans uitgestuur kan word.
Volgens hom is dit in ander munisipaliteite waar die elektroniese stelsel toegepas is, bewys dat die proses nie doeltreffend werk nie.
Volgens hom het raadslede in Nxuba aan hom genoem dat ambulanse glad nie ontbied kan word nie omdat die oproepe bloot nie beantwoord word nie.
Smith is ook diep bekommerd oor die Nieu-Bethesda-gemeenskap wat lankal aan die kortste ent trek wat EMS-dienste betref.
Voorgestelde antwoord- en versendingstelsel
Volgens die departementele verklaring is die implementering van die elektroniese stelsel in lyn met die presidensiële veldtog vir die vierde industriële revolusie (4IR) en vorm deel van 'n breër doelwit om tegnologie te benut vir verbeterde dienslewering, operasionele doeltreffendheid en pasiëntresponstye.
Die departement sê die stelsel is by die Gqeberha EMS-stasie geïmplementeer en het belowende uitkomste getoon in terme van doeltreffendheid, intydse databenutting en oproephanteringskapasiteit.
Die departement wil nou die Sarah Baartman-distrik in die Gqeberha-gebaseerde stelsel infaseer.
Volgens die verklaring poog die departement om dienskoördinering en reaksietye regoor die Sarah Baartman-distrik te verbeter.
Hulle wil ook digitale tegnologie beter benut om intydse opsporing, data-analise en voorvalreaksie te verbeter.
Volgens die departement behoort die gesentraliseerde stelsel oproepneming en -versending te verbeter en sodoende vertragings in noodreaksies verminder.
Dit sal eenvormige sorgstandaarde en stelselwye integrasie verseker, terwyl die outomatiese aantekening en analise van oproepe strategiese beplanning moontlik sal maak.
Infasering
Fase 1 word vir Graaff-Reinet beplan vanaf begin Julie en sal onder andere infrastruktuur- en tegniese integrasie, personeelopleiding, finale stelseltoetsing en oorskakeling, asook deuropende onderseteuning na die integrasie behels.
Personeel sal deur die oorskakeling geraak word.
Twintig geselekteerde EMS-kommunikasiepersoneel van die Sarah Baartman-sentrums sal na die oproepsentrum Gqeberha oorgeplaas word.
Hierdie personeel sal formeel geraadpleeg en ondersteun word tydens die oorgangsproses. Oordragte sal in ooreenstemming met arbeidswette wees, vaardigheidsontwikkeling en -opleiding sal verskaf word en verblyf- en reisreëlings vorm deel van die proses.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’