GRAAFF-REINET NUUS - Swak paaie raak elke aspek van die lewe, met beperkte toegang tot gesondheidsorg, onderwys en werksgeleenthede.
Boerdery en toerisme, twee sektore met die potensiaal om ekonomiese groei in die provinsie te dryf, word die swaarste getref.
Die hoofroetes deur Graaff-Reinet en Cradock is in ‘n redelike toestand, maar sommige strate in Cradock is in ‘n haglike toestand as gevolg van swaar voertuie wat deur die dorp beweeg.
Dit is egter wanneer verkeer van hierdie roetes af beweeg na minder bekende roetes, wat die groot agteruitgang van die infrastruktuur duidelik raak.
Boere doen dit self
In die Hofmeyrdistrik maak die boere self die R391 roete reg, en hou dit in stand. Ongelukkig is daar op Hofmeyr ook geen meer padboumasjinerie nie, en dit was met groot vreugde wat diegene wat op ‘n daaglikse basis van die R401 vanaf Tarkastad gebruik maak, die afgelope jaar kon beleef dat die 21 km grondpad, voordat daar by die teer aangesluit word, uiteindelik herstel is.
Daar is ook die afgelope week met verwonderling opgemerk dat padtekens langs die R390 vanaf Hofmeyr, na die Steynsburg/Middelburgkruising, skoongemaak en afgewas word. Tog is daar talle roetes wat indringend aandag nodig het.
Dr Vicky Knoetze, LP en leier van die amptelike opposisie in die Oos-Kaapse wetgewer het op 31 Oktober die infrastruktuurkrisis aangespreek, en die provinsiale regering versoek om die paaiekrisis aan te spreek.
“Desembermaand is vakansietyd in Suid-Afrika, ons padvervoerstelsels moet van so ‘n aard wees dat toeriste hulle bestemmings veilig kan bereik.”
Menseregte-verslag
Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) se verslag, wat verlede week vrygestel is, skets die verwoestende impak van die Oos-Kaap se verbrokkelende padinfrastruktuur op die ekonomie, werkskepping en toegang tot noodsaaklike dienste.
Oos-Kapenaars ervaar eerstehands hoe onvoldoende paaie gemeenskappe isoleer, groei belemmer en armoede verskans.
Die SAMRK-verslag onthul dat slegs 9% van paaie in die Oos-Kaap geplavei is, vergeleke met die nasionale gemiddelde van 25%.
Boere wat van grondpaaie gebruik maak sukkel om hul produkte by markte te kry. Vragmotoreienaars weier ook om hierdie paaie te gebruik. Net so ly die toerismebedryf daaronder.
Die rimpeleffek van swak paaie is verwoestend. Die verslag dokumenteer gevalle waar ambulanse pasiënte nie betyds kan bereik nie en waar polisiereaksietye erg vertraag word.
Dit vererger armoede en beperk ekonomiese groei, hou werkloosheid hoog en verhoed dat die provinsie sy potensiaal bereik.
Knoetze doen 'n beroep op die Oos-Kaapse tesourie en die departement van vervoer om met die private sektor in gesprek te tree om 'n padnetwerk te skep wat investering sal bevorder, vervoerkoste sal verlaag en marktoegang vir plaaslike besighede sal verhoog.
Alternatiewe padbou-oplossings, soos plastiekpaaie, moet ook oorweeg word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’