NIEU-BETHESDA NUUS - Verskeie staatsdepartemente het verlede Dinsdag met die Nieu-Bethesda gemeenskap, sowel as leerders van die Lettie De Klerk laerskool ontmoet om uitdagings in hierdie klein gemeenskap aan te spreek.
Die departemente onderwys, polisie, maatskaplike ontwikkeling, gesondheid, binnelandse sake, kommunikasie- en ook SASSA, die Suid-Afrikaanse maatskaplike sekuriteitsagentskap, het almal spreukbeurte gehad om dié gemeenskap toe te spreek.
Alkohol en dwelmmisbruik, tiener-swangerskappe, seksuele oordraagbare siektes, skoolopskortings, identiteitsdokumente- en HIV en Vigs was onderwerpe wat hiér bespreek was.
Nomandla Singeni van die Oos-Kaap se departement van onderwys het leerders en onderwysers aangemoedig om hul misnoë uit te spreek.
Singeni het gesê die departement is bewus van vele uitdagings in die gemeenskap wat leerders affekteer.
Singeni het na die verskeie departemente teenwoordig verwys toe sy noem dat verskeie hulpbronne beskikbaar is om hulp te verleen.
“Drank en dwelm misbruik is van die grootste euwels op Nieu-Bethesda en ons moet dit uitroei,” het sy gesê.
Tydens die sessie met die leerders se ouers, het Singeni gesê dat opvoeding nie slegs die taak van die skool is nie.
Sy het ouers aangemoedig om deel te word van en ook die skool se belange op die hart dra.
“Dit is ‘n algemene en gemeenskaplike taak. Ouers het ook ‘n verantwoordelikheid en moet betrokke raak by die skool.”
Op haar spreekbeurt het Helen Rankwana, ook van die departement van onderwys, dié skool se personeellede geprys vir die leerders se samehorendheid.
“Dit is baie duidelik dat hierdie ‘n baie minderbevoorregte gemeenskap is, maar die leerders was almal netjies in uniforms geklee. Dit sê baie van ‘n skool en ‘n gemeenskap,” het Rankwana gesê.
Rankwana het egter klem gelê op dwelmmisbruik onder leerders.
Sy is van mening dat dwelms en die alkohol misbruik van ouers ‘n groot negatiewe impak op leerders sal hê.
“As leerders ook dwelms gebruik, dan word dit al hoe moeiliker om leerders te help om hul talente te ontdek en te ontwikkel.”
Sy het verder ‘n beroep op ouers gedoen om dwelmhandelaars uit te wys.
“Julle as die gemeenskap weet wie die dwelmsmouse is. Net julle kan help om dit uit te roei.”
Rankwana het gesê die hulpbronne is deur die regering gestel om ondersteuning aan die skool en gemeenskap te bied. “Ons vra slegs dat ouers meer betrokke word in hul kinders se opvoeding.”
Naniso Yanzele van die departement van onderwys dans met die leerders.
Ons bring jou die nuutste Nieu-Bethesda, Karoo nuus'