Update
GRAAFF-REINET NUUS - Deago Vywers (15), leerder by Spandau Sekondêre skool, is as die speler van die toernooi by die afgelope Youth Explosion-toernooi wat in Nieu-Bethesda plaasgevind het, aangewys.
Vywers is ’n ywerige sokkerspeler wat bykans elke dag tyd maak om sy sokker te beoefen, en hierdie toernooi was vir hom ’n wonderlike geleentheid om te bewys waartoe hy in staat is.
“Dit was vir my die hoogtepunt van my lewe, en ek beplan om nog baie ver te kom met sokker,” vertel Vywers, wat ’n verdediger is by die Young Stars Sokkerspan in Nieu-Bethesda.
“Ek is ongelooflik gelukkig dat ek hierdie toekenning ontvang het, ek glo ook dat ons die derde toernooi, waarin my span, die Young Stars gaan deelneem, sal wen.”
“Ek wil my ouers trots maak op my sport,‘ sê Vywers.
“Ten opsigte van Denley kan ek sê dat die dissipline wat ons by hom in sokker leer, vir my baie belangrik is en ek leer soveel uit die motiveringspraatjies wat deur hom aangebied word voor elke wedstryd. Om sokker te speel, bring orde in my lewe.”
Denley Swartz van Youth Explosion, Vywers se afrigter en die organiseerder van die sokkertoernooie by Alpha & Omega in Nieu-Bethesda, sê dat hy vreugde vind in die verskil wat hierdie aktiwiteite in soveel kinders van Nieu-Bethesda se lewens maak.
Die volgende uitdaging sal in Februarie gehou word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’