NIEU-BETHESDA NUUS - Die Young Stars het as die wenners van die Youth Explosion sokkertoernooi, wat op 20 en 21 Desember 2025 plaasgevind het, uit die stryd getree.
Volgens Denley Swartz, bestuurder en woordvoerder van Youth Explosion, het Arrows FC die derde uitspeelwedstryd gewen.
Die tweede uitspeelwedstryd wat daarna gevolg het, was ’n baie opwindende wedstryd tussen die Rovers Damesspan en die Kings Damesspan, waar die Rovers Dames met die trofee weggestap het.
“Die finale wedstryd, waarna almal vir drie weke uitgesien het, en waar die toeskouers net so opgewonde soos die spelers was, was tussen die Young Stars en die United Kings,” sê Swartz.
“Die wedstryd is maklik deur die Young Stars gewen, want daaglikse oefening het in hulle guns getel.
As algehele kampioene het die Young Stars met ’n wentelling van 6 - 2 klaargemaak.”
Matthew Kruger is as doelwagter van die toernooi aangewys, terwyl Elverno Davidson die beste doel van die toernooi aangeteken het.
Deago Vywers is as speler van die toernooi benoem en CJ Minnies was die top doelskieter.
Angelo Makwena het weggestap met die toekenning as die beste sokkerafrigter by die toernooi.
Denley Swartz, wat hierdie toernooi asook vakansievermaak vir al die Nieu-Bethesda-sokkerspelers gereël het, sê dat hy baie trots is op wat hy kon vermag.
As ’n dwelmafhanklike is hy reeds vir 11 maande skoon en hy beplan om in 2026 nog baie meer te doen in sy gemeenskap.
Hy stel ’n nuwe jaar van sokker-uitdagings in die vooruitsig, en sou graag ook netbal- en rugby-afrigting wou inskakel by sy Youth Explosionprogram.
“Die jeug in Nieu-Bethesda kan gerus inskakel hier by Youth Explosion. Die ouers kan gerus wees dat ek ons jongmense sal vertel van my Christelike lewensuitkyk, en die gevare van drank- en dwelmmisbruik met die kinders sal deel, sodat hul nie dieselfde swaar pad as ek sal moet stap nie,” sê Swartz.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’