Update
GRAAFF-REINET NUUS - “Dit voel onwerklik, soos iets uit ’n film.”
So het Ronel Veldman, een van die susters van die vermoorde Annette Jooste van Eeden (59), Donderdag aan die Graaff-Reinet Advertiser vertel. Sy het ook ’n foto van Jooste van Eeden aan die Advertiser verskaf.
Jooste van Eeden se liggaam is laasweek lang die N9, in die rigting van Middelburg, gevind. Sy het ’n wond aan haar kop gehad.
Jooste van Eeden, wat in Vereeniging gewoon het, was van plan om by Veldman in Port-Alfred te gaan woon, maar dààr het sy nooit opgedaag nie.
Volgens Kaptein Bradley Rawlinson is die oorsaak van Jooste van Eeden se dood aan die polisie bekend, na ’n nadoodse ondersoek Woensdag op haar liggaam gedoen is.
Hy wou nie verder uitbrei nie, maar vra dat enige iemand met inligting Speurder Adjudant-Offisier Leon Weitz op 082 301 8475 skakel.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'