KAROO NUUS - Nadat die NG Kerk in Willowmore se pastorie twee nagte in 'n ry, op 30 en 31 Julie, 'n ongenooide besoeker gehad het, het die nagbesoeke darem opgehou en, "is dit eintlik nou al ou nuus", sê ds. Dawie de Wet.
Die inbraakskade is herstel en ná die tweede poging, is 'n alarm ook geïnstalleer.
Die plaaslike polisie het sake van huisbraak, diefstal en inbraak met die doel om te steel, geopen. Die sake word ondersoek, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.
De Wet sê die polisie was telkens flink op die toneel en het ook vingerafdrukke geneem.
Die inbrake vanjaar volg ná verskeie inbrake by die kerk en saal verlede jaar. "Ek is redelik seker al die inbrake was opportunisties - 'n verslaafde of twee wat geld soek vir dwelms."
Met 30 Julie se inbraak het De Wet eers die volgende oggend besef daar is fout toe hy sien die voordeur staan oop. Kruideniersware en 'n handsak is gesteel na die boewe 'n glasdeur se slot gebreek en die traliehek se raam afgebreek het. Die gebreekte slot is dadelik vervang, maar die inbreker het die volgende nag, in die oggendure, weer sy opwagting gemaak.
De Wet het ná die eerste inbraak die volgende nag die gangdeur, wat na die slaapkamers lei, gesluit vir ekstra sekuriteit. Teen ongeveer 06:00 het hy gehoor hoe daar met die deur gestoei word om dit oop te forseer. Hierdie keer het hy nie op hom laat wag nie en deur die toe gangdeur gewaarsku dat hy gewapen is. Dit het die inbreker die hasepad laat kies - sonder sy flits en sak.
De Wet sê die grootste ongerief is die identiteitsdokument en rybewys wat gesteel is.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’