OOS-KAAP NUUS - ’n Paartjie van 32 en 23 jaar oud, beide van Mbizana, is in hegtenis geneem vir die moord op ’n driejarige babaseuntjie wat na bewering op 1 September 2024 in die Gqwesa-omgewing naby Sulenkama gepleeg is.
Die verdagtes is omstreeks 19:45 op Woensdag 21 Januarie digby Qumbu deur die Sulenkama-polisie vasgetrek.
Mediawoordvoerder van die Oos-Kaapse Polisie, lt.kol. Siphokazi Mawisa, het gesê die 23-jarige vroulike verdagte het in 2024 by die Mbizana-polisie aangemeld dat haar driejarige seuntjie by ’n vulstasie in Mbizana vermis geraak het.
Tydens die polisieondersoek het CCTV-kamerabeeldmateriaal bewys dat dit nie waar was nie.
Volgens Mawisa het verdere ondersoeke aan die lig gebring dat die baba deur sy ma se kêrel met ’n stok doodgeslaan is terwyl hulle in Sulenkama was, waar die kêrel ten tye van die inhegtenisname steeds gewerk het.
Daar word beweer dat die kind gebore is terwyl die verdagtes reeds in ’n verhouding was, maar die kêrel is nie die pa van die kind nie.
Na die kind se dood het die verdagtes hom glo in ’n 20 liter-emmer gesit, dit styf met draad toegedraai en die kind in die geheim in ’n klein graffie begrawe.
Die ma het daarna na die Mbizana-polisiestasie gegaan om die kind as vermis aan te meld.
Nadat die paartjie die babaseuntjie se graf in Sulenkama aan die polisie uitgewys het, is dit oopgegrawe en die ontbinde liggaam van die seuntjie is binne-in die emmer gevind.
Moordklagte is teen die duo aanhangig gemaak, en die vrou staar ook ’n klag van dwarsboming van die gereg in die gesig.
Beide verdagtes het op Vrydag 23 Januarie in die Qumbu-landdroshof op hul aanklagte verskyn.
“Dit is hartverskeurend en hartseer dat ’n menselewe op so ’n gruwelike manier verlore kan gaan, maar die reg moet sy gang gaan,” het maj.genl.
Norman Modishana, OR Tambo-distrikskommissaris, gesê.
Hy het die wrede moord op ’n onskuldige kind veroordeel en ook die ondersoekbeamptes vir hul uitstekende werk geprys.
’n Verslag vanaf die Nasionale Vervolgingsgesag is nog nie beskikbaar om die uitkoms van die hofverrigtinge mee te deel nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’