GRAAFF-REINET NUUS - 'n Oud-inwoner van Graaff-Reinet, Swannie Swanepoel, het onlangs 'n pragtige gedig oor die dorp se bekende landmerk, Spandauskop, gepen.
Swannie (88), wat tans in George woonagtig is, het vir etlike jare in Graaff-Reinet saam met sy eggenote Joey (‘n nooi Venter) gewoon, voordat hulle in 2000 besluit het om in Mosselbaai te gaan aftree.
Die gedig 'Spandauskop', wat beslis enige trots-Graaff-Reinet se hartsnare sal roer, is geensins Swannie se eerste skrywe nie.
In 2012 toe die egpaar van Mosselbaai na 'n aftree-oord in George verhuis het, het Swannie begin om sy memoirs te skryf, wat toe in 2014 gepubliseer is met die titel; “Memoirs oor ‘n reis van tagtig jaar”.
Hy publiseer ook toe kort daarna sy eerste digbundel getiteld 'Vers en Woord' en net daarna sy tweede digbundel naamlik 'Krale van Klip'.
In 2016 publiseer hy sy eerste fiksie roman getiteld 'Tirsa van Salome', wat na Salome se lewe en sy liefdesbeskrywings in Hooglied verwys.
Na hierdie baie populêre boek, skryf en publiseer hy nog ‘n roman getiteld 'Loeriesfontein se Mense' in 2017, wat handel oor die boerdery, lief en leed van ‘n familie oor drie geslagte in die Groot Karoo gedurende die middel tot laat 1900s.
Swannie is dan huidiglik ook besig met ‘n boek wat twee kortverhale bevat.
Die een kortverhaal 'Karools Fortuin, die Kargadoor', speel hoofsaaklik op 'n plaas in die Graaff-Reinet-omgewing af.
'n Oud-inwoner van Graaff-Reinet, Swannie Swanepoel, het onlangs 'n pragtige gedig oor die dorp se bekende landmerk, Spandauskop, gepen.
Die gedig 'Spandauskop', kom in hierdie kortverhaal voor.
Die ander kortverhaal 'En toe kom die Reën' speel af in die Waterberg in die Limpopo-provinsie in die vroeë 1900s tot en met die einde van 'n groot droogte wat van 1929 tot 1933 geduur het. Die boek bevat dan ook 50 van sy topgedigte.
SPANDAUSKOP
Wees gegroet, mooi dogter van die berge van die Karoo.
Jy lê snoesig genestel op jou werf, die rusplek van die reënboë.
Jy is die kompas wat jou besoekers na jou toe lei
En jy mag maar met jou mooi kurwes jou gaste verlei.
Jou besoekers sien jou van ver af as ‘n prinses op jou troon.
Jy is getooi in jou groen gewaad, en jou rok se soom,
Met klein aalwyntjies wat blom, geborduur
En fakkeltjies wat brand, aangesteek deur vonkies van ‘n vuur.
Jy waak jaloers oor klipstapels in die vallei van verlatenheid
oor murasies en pilare van kulture in vergetelheid.
En jy, Uitkyk, Goliat van Graaff Reinet se berge,
tuur in die verlede en bring oerdiere in morasse te berde.
Jou gaste reis deur Uquartpark na Ribbokberg,
Jou kleiner boet en geselsmaat wat jou aandag verg,
Wat jou uitnooi na sy skouspel van vuurpyle wat vlam
Terwyl hy getrou waghou oor die dorp se dam.
As dit nagmaal is op Graaff-Reinet
Dan nooi jy die nagmaalgangers vir hul plesier en pret
En om aan te sit aan ‘n gedekte tafel
En introspeksie te hou en hul sieledrome te ontrafel.
Swaai maar jou septer tot waar die wolke met die son se strale dans,
Terwyl hulle die Westerkim tooi met die mooiste kleureglans.
En hul poseer met die skakerings van lig tot donker wyn
Gemeng met helder kleure in ‘n geroesemoes van karmosyn.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'