GRAAFF-REINET NUUS - 'n Botsing tussen twee vragmotors op die N10 het die lewe van een man geëis en sewe ander is beseer.
Op Maandag 10 Julie omstreeks 07:30 het verkeer op die Olifantskoppas, sowat 40 km buite Cradock, tot stilstand gekom toe twee groot vragmotors, met sleepwaens, in 'n trompop botsing betrokke was.
Tydens die ongeluk het die vragmotors ook 'n stilstaande dubbelkajuitbakkie, wat langs die pad gestaan het, getref. Die drywer van die een trok is op die toneel dood en sewe van die bakkie se insittendes is beseer en na Cradock-hospitaal geneem.
Oos-Kaapse-polisiewoordvoerder, kol. Priscilla Naidu, sê 'n saak van strafbare manslag is geopen. Die oorledene se naam word weerhou omdat van sy naasbestaandes teen saktyd nog in kennis gestel moes word van sy dood.
Unathi Binqose, woordvoerder van die departement van vervoer in die Oos-Kaap, het gesê dat die Olifantskoppas op die N10 Maandag weer oop was vir verkeer. Volgens hom het die ongeluk vermoedelik gebeur omdat een van die vragmotors die ander wou verbysteek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’