GRAAFF-REINET NUUS - Inwoners van Spandauville het uitgereik na Graaff-Reinet Advertiser om net 'n paar bekommernisse in hulle gebied uit te lig om sodoende die veiligheid van inwoners, motoriste en voetgangers in die omgewing te verbeter.
Die groot kwessie is die kruising voor die nuutgeboude Eastcape Midlands Kollege waar Woekestraat, Kingwillrylaan en Bergendal bymekaar kom.
Op die hoek van Kingwillrylaan staan 'n onversorgde bloekomboom met takke wat gevaarlik oor die pad hang.
Volgens inwoners het die munisipaliteit hulle meegedeel dat die boom 'n geleier van weerlig is en dat 'n aarddraad onder deur die boom loop wat groot gevaar kan inhou sou dit deur weerlig getref word.
Tog is daar tot op hede nog nie 'n poging aangewend om die boom te verwyder nie.
Op die einste hoek skitter die stopteken in sy afwesigheid met nie 'n leksel verf op die pad om enige vorm van verkeersbeheer toe te pas nie.
Inwoners is ook raadop oor die gebrek aan 'n loopweg vir kollegestudente.
Die studente moet teen die verkeer oploop na die ingangshek en soggens skyn die son reg van voor wat dit vir motoriste moeilik maak om die studente te sien.
Die spoed waarmee motoriste van Bergendal met Woekestraat afkom wek kommer en sal 'n vierrigting stopstraat beter veiligheid help verseker.
DBNLM-woordvoerder, Vuyani Jantjies, het die Advertiser verseker dat al die kwessies na die relevante departemente aangestuur is en dat werksinstruksies uitgereik word om die kwessies te ondersoek en werk daarvan te maak. Jantjies het ook onderneem om terugvoering aan die Advertiser te stuur oor hoe die munisipaliteit hierdie kwelpunte gaan aanspreek.
Die bloekomboom op die hoek van Woekestraat en Kingwillrylaan.
Die imposante ingang na die Eastcape Midlands Kollege staan egter om ‘n gevaarlike kruising met geen verkeersbeheermaatreëls.
Die afwesigheid van ‘n veilige loopweg vir studente van die Eastcape Midlands Kollege hou gevaar in vir motoriste en voetgangers. Foto’s: Pieter Pienaar
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'