GRAAFF-REINET NUUS - In 'n persverklaring wat op Maandag 6 Mei uitgereik is, het die DA-koukus in die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit hul ontevredenheid uitgespreek oor die onlangse aanstelling van 'n persoon as algemene werker by die munisipaliteit se infrastruktuurdienste department.
Volgens die voorsitter van die DA-koukus, Ewald Loock, spruit hierdie ontevredenheid voort uit die feit dat die peroon tans een van die munisipaliteit se grootste debiteure is.
Die persoon huur reeds vir 'n geruime tyd lank al 'n eiendom in Graaff-Reinet by die munisipaliteit. Die Artikel 52 verslag van 30 September verlede jaar dui dit aan dat die huur- en diensterekening vir die betrokke eiendom met meer as 'n miljoen rand agterstallig was.
Volgens Loock is hierdie verslag deur die munisipale raad bespreek en die aanbeveling was dat die persoon afstand van die eiendom moet doen vanweë die enorme bedrag geld wat aan die munisipaliteit verskuldig is.
Die Advertiser is in besit van die notule van 'n raadsvergadering waarin die aanbeveling vervat is dat die persoon met onmiddellike effek van die eiendom verwyder moet word indien die dit duidelik is dat die huurooreenkoms verbreek is, asook die Artikel 71 verslag van April waarin dit aandui word dat op 30 April die totale bedrag van R1 186 677,16 aan die munisipaliteit verskuldig was. Hierdie verslag is ook op 17 Mei op die munisipaliteit se webtuiste gepubliseer.
Die DA-koukus is van mening dat die persoon se aanstelling as algemene munisipale werker nie toelaatbaar is nie omdat Artikel 10 van die Gedragskode vir Munisipale Werknemers bepaal dat geen munisipale amptenaar agterstallig mag wees met die betaling van dienstegelde vir meer as 30 dae nie, andersins mag dit van 'n salaris verhaal word. Artikel 9 van dieselfde gedragskode bepaal dat geen munisipale amptenaar eiendom van die munisipaliteit mag gebruik indien hy of sy nie toestemming daartoe het nie.
Ten spyte van die munisipale raad se aanbeveling het die persoon steeds nie die eiendom verlaat nie. Op hierdie stadium is dit egter onseker of hy wel kennis gekry het van die munisipaliteit om die eiendom te verlaat en probeer die Advertiser dit nog vasstel. Loock beklemtoon dat die Gedragskode vir Munisipale Werknemers in Skedule 2 van die Munisipale Sisteme Wet vervat word en dat daar daarom 'n wetlike verpligting op alle munisipaliteite is om dit toe te pas.
"Die aanstelling as munisipale werker is die ergste vorm van kaderontplooiing wat op plaaslike vlak kan plaasvind," meen Loock. "Die DA-koukus is nie oortuig dat die persoon as algemene werker 'n bydrae tot dienslewering in die munisipaliteit kan lewer nie omdat algemene werkers, volgens hulle, aan sekere standaarde moet voldoen. Daarom is die vermoede dat die aanstelling as algemene werker dalk 'n voorlooper tot sy aanstelling in 'n bestuurspos in die Dr Beyers Naudé munisipaliteit kan wees.
'n Versoek vir kommentaar oor die aanstelling en die beweerde kaderontplooiing is aan die ANC gerig maar teen druktyd het hulle nog nie reageer nie. Die ander politieke partye met verteenwoordiging in die plaaslike munisipale raad – EFF, VF+ en CSA – is ook vir kommentaar genader. Raadslid Riaan van Heerden van die VF+ bevraagteken ook die aanstelling. "Vir my lyk dit uit en uit soos ANC-kaderontplooiing."
Teen druktyd het die CSA en EFF nog nie op die Advertiser se navraag reageer nie.
Beide die DA en die VF+ is van mening dat die persoon se aanstelling as munisipale werker onreëlmatig is. Daarom voel hulle dat die LUR van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, asook die inwoners van die Dr Beyers Naudè-munisipaliteit, bewus gemaak moet word daarvan.
Die Advertiser het die persoon vir 'n geruime tyd in die hande probeer kry vir kommentaar in reaksie op die inhoud van hierdie berig.
Ten spyte van telefoniese oproepe, teksboodskappe en e-pos kommunikasie was hy onopspoorbaar. Talle e-posse aan die munisipaliteit het ook onbeantwoord gebly.
Hierdie is 'n ondersoekende en ontwikkelende storie en soos inligting bekend raak sal dit vrygestel word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’